Johan Styger - Stoetteler van die Jaar

22 April 2017
-
2 minutes

Meneer Johan Styger, eienaar van BTB Simmentalers by Klerksdorp is Suid-Afrika se Stoetteler van die Jaar. Hy het hierdie besondere toekenning op die jaarlikse Aldam-vleisbeesskool ontvang. Hierdie is ‘n jaarlikse kompetisie wat deur Pick n Pay, Landbouweekblad en Breedplan aangebied word. Johan het in 2014 en 2015 onderskeidelik die 3de en 2de plekke beklee.

Johan, ’n raadgewende ingenieur van Klerksdorp wat deeltyds boer, is sedert 1986  stoetteler. Hy het die BTB Simmentalerstoet in 2004 begin. Die uitgangspunt van sy boerdery is dat genetiese vordering gemeet word aan die wins vanaf genetika. Hy maak gebruik van ’n ‘selfvervangingsvoerkraal-indeks’ (SRFI) wat deur Breedplan ontwikkel is. Dit is ’n ekonomiese indeks wat ekonomiese waardes aan teelwaardes koppel. Om dit te verduidelik gebruik hy die voorbeeld dat daar ’n positiewe korrelasie tussen geboortegewig en 200 dae oud speengewig is. ’n Hoër speengewig het ’n positiewe ekonomiese waarde, maar sodra daar vir swaarder geboortegewig geselekteer word, is kalfprobleme meer algemeen, wat ’n negatiewe ekonomiese waarde het. Die SRFI weeg die verskillende waardes op en druk dit as ’n enkele ekonomiese waarde uit. Dit maak dit vir die bulkoper maklik om die finansiële effek wat die bul op sy kudde gaan hê te kan sien.

Volgens Johan bestaan sy suksesvolle stoetboerdery uit drie bene:

Weidingsbestuur

Die plaas Schoemansfontein bestaan uit 1 019 hektaar, waarvan die helfte ’n jaar gerus word en die ander helfte semi-intensief bewei word deur sy 180 koeie.   

Vrugbaarheid

Keuring word baie streng gedoen op vrugbaarheid. Indien die koei nie ’n kalf lewer nie word sy uitgeskot. Deur van die streng seleksietegniek gebruik te maak word die sub-vrugbare diere makliker geïdentifiseer en van ontslae geraak. “Dae tot kalwing” word as genetiese maatstaf gebruik om genetiese vrugbaarheid te bevorder. Dit is ’n vrugbaarheidsindeks wat onverwant aan die omgewing is. Daardeur kan die vrugbare koeilyne meer suksesvol bepaal word. Mnr Styger spog met ’n interkalfperiode (IKP) van slegs 381 dae wat baie na aan die teoretiese minimum is. Die IKP kan nie veel korter wees nie omdat die verse drie weke voor die koeie kalf en langer kans gegee word om herbeset te word. Om genetiese vordering te bevorder word ongeveer 25% vervangingsverse by die kudde ingesluit en sy bulle word reeds vanaf ’n jong ouderdom gebruik.

Prestasie

Die Simmentalerkudde is een van slegs twee kuddes in Suid-Afrika wat ’n vierster-gradering het vir volledigheid van prestasie. Dié toekenning deur Breedplan word gegee vir kuddes wat aan hul rekordhoudingsvereistes voldoen. Deur van die ekonomiese seleksie-indekse gebruik te maak, kan meer suksesvolle genetiese vordering plaasvind.

Johan gebruik sedert Mei 2016 van De Heus se produkte. Hy gebruik De Heus se produkte om sy bulle uit te groei en die verse ontvang 1kg RumiLick Accelerator lek per dag op spilpuntbeweiding. Op winterweiding word van De Heus se winterlekke gebruik. Hy is baie tevrede met die gehalte en die uniformigheid van die produkte en het nie meer probleme met te hoë lekinname soos met van sy vorige winterlekke nie. Hy het ook opgelet dat die weiding beter verteer en benut word.

Die toekomsplanne vir BTB Simmentalers is om met twee standaard afwykings volgens die ‘self-vervangingsvoerkraal indeks’” te verbeter wat hom in die top 2% van die ras se genetika sal plaas.

De Heus wens Johan graag volgehoue sukses toe met al sy toekomsplanne.