Basiese kuilvoerbeginsels

24 February 2014

Mieliekuilvoer is een van die belangrikste ruvoere in die Suid Afrikaanse melkbedryf vandag. Dit word algemeen gebruik omrede dit hoë opbrengste en hoë energie per hektaar lewer. Sou dit reg bestuur word, is dit hoogs smaaklik en baie konstant. Dit kan vinnig geoes word, dit kan gestoor word oor lang periodes en dit het oor die algemeen lae stoorkoste.

Ideale kwaliteit mieliekuilvoer is afhanklik van die besluite en bestuurspraktyke geïmplementeer voor, tydens en na die inkuiling proses. Die maak en gebruik van mielie kuilvoer as ‘n proses kan in twee hoof fases opgedeel word:

  • die inkuiling proses en 
  • die uithaal en voer daarvan

Beide van die prosesse gaan gepaard met sy eie stel moontlike probleme en belangrike bestuursaspekte.

Die inkuilingsproses

Die 3 hoof bestuursfaktore wat kwaliteit beïnvloed is soos volg:

  • ouderdom van mielies ten tyde van oes
  • tipe fermentasie wat in die silo plaasvind
  • die stoor struktuur (bunker uitleg en ontwerp)

Ouderdom tydens oes

Ouderdom van gewasse tydens oes kan die kwaliteit van mieliekuilvoer affekteer omrede dit die graan en voginhoud kan affekteer, asook die verteerbaarheid daarvan. Die beste manier om die korrekte ouderdom te bepaal, is deur die melklyn op die mieliepit te gebruik. Die melklyn is die oorgangsfase tussen die vloeistof en soliede gedeelte van die mieliepit. Die optimale ouderdom is wanneer die melklyn halfpad tot twee derdes met die pit afbeweeg het. Korrekte ouderdom verseker voldoende suiker vir fermentasie en voldoende vog vir kompaksie.

Tipe fermentasie wat in die silo of bunker plaasvind

Die tipe fermentasie wat plaasvind word bepaal deur verskeie faktore soos kaplengte, die spoed van opvulling en vastrap. Optimale fermentasie vind plaas in ‘n anaerobiese omgewing, met ander woorde in die afwesigheid van suurstof. Dus hoe vinniger suurstof uit die proses verwyder word, hoe beter kwaliteit kuilvoer kan geproduseer word.

Kaplengte

Die ideale kaplengte van kuilvoer is ongeveer 6 tot 12mm. Kaplengte is belangrik vir twee redes:

  • ‘n te lang kaplengte maak kompaksie moeilik en suurstof sal dan vasgevang word in die kuilvoer wat ‘n verswakte eindproduk tot gevolg het
  • ‘n te lang kaplengte maak dit ook moeilik om effektief voer uit die bunker te haal sonder te veel vermorsing

Opvulling, vastrap en seël

‘n Kuilvoergat moet so vinnig as moontlik volgemaak en vasgetrap word. Hoe vinniger die proses voltooi word, hoe vinniger kan aërobiese respirasie stop en anaerobiese fermentasie plaasvind en dus vermorsing verminder. Vastrap is egter die heel belangrikste punt en moet die meeste aandag geniet. Aandag moet gegee word om die kuilvoer voldoende vas te trap voordat die volgende vrag afgelaai word. Hoe effektiewer die kompaksie is, hoe beter sal die kwaliteit van die eindproduk wees. Die silo’s moet so gou moontlik geseël word na vastrap. Sterk, UV bestande seile moet gebruik word. In warmer areas is dit ook ‘n goeie idee om wit seile te gebruik om sodoende hitte op die kuilvoer te verminder. Seile moet ook vasgepak word met ou bande of selfs ‘n dun laag grond om addisionele kompaksie te verskaf en vermorsing te verminder.

Stoorstruktuur

‘n Lang smal bunker sal ‘n beter kwaliteit kuilvoer tot gevolg hê. Die rede hiervoor is dat daar vinniger deur die bunker beweeg word tydens die uithaalproses en dus sal ‘n kleiner persentasie voer op enige stadium blootgestel word aan aërobiese respirasie. Die bunker moet so uitgedun word dat daar teen ‘n minimum tempo van ongeveer 1.5m per week deur die kuilvoergat beweeg word.

Byvoegsels

Algemene byvoegsels sluit in bakteriële inokulante, organiese sure, NPN bronne, sout en ensieme. Meeste kuilvoer inokulante verskaf voordelige bakterieë, ensieme of fermentasie substrate. Dié kan handige toerusting wees om kuilvoerkwaliteit te verbeter. Dit is egter nie ‘n vervanging vir swak kuilvoer bestuur nie.

Die uithaal en voer proses

Alhoewel die uithaal proses as ‘n kort gedeelte gesien word en dikwels gesien word as slegs die laaste stap in ‘n lang proses, kan dit in ‘n relatiewe kort tydjie alle goeie en harde werk van die vorige seisoen vernietig. Meeste boere trap keer op keer in die slagyster van swak uithaal praktyke en verstaan dan nie waarom hulle kwaliteit kuilvoer produseer nie.

Bunker bestuur

Die ideaal is om voor elke voeding ʼn nuwe vrag kuilvoer uit die bunker te verwyder. Algemene, maar wel swak praktyke, is om kuilvoer een maal per dag of selfs een maal in twee dae te verwyder vir die voer van diere. In so ʼn geval word die kuilvoer blootgestel aan aërobiese respirasie wat negatiewe fermentasie tot gevolg het en daar dan ʼn swakker kwaliteit kuilvoer tot die beskikking van die dier is. Tydens die uithaal van die kuilvoer moet aandag gegee word om die gesig van die bunker so netjies as moontlik te sny. Hoe netjieser die bunker is, hoe minder blootstelling is daar van die gesig aan suurstof, wat kan lei tot aërobiese respirasie en swak kwaliteit kuilvoer.

Daar moet ook moeite gedoen word om geen los kuilvoer voor die gesig van die bunker te los nie. Na uitlaai moet seile teruggeplaas word oor die gesig van die bunker en weereens vasgepak word met bande. Dit is van uiterste belang dat die bestuursaspekte noukeurig gevolg word, aangesien dit al die harde werk van die vorige maande in die wiele kan ry. Enige kuilvoer wat indikasies toon van swak fermentasie moet verwyder word en nie saam met die res van die kuilvoer gevoer word nie. Daar is dikwels ‘n dun bruin laag bo op ‘n kuilvoerhoop. Die bruin laag is ‘n goeie voorbeeld van kuilvoer wat moet verwyder word eerder as dat dit gevoer word. Die areas is ‘n teelgrond vir die produksie van mikotoksiene en kan groot finansiële verliese hê sou dit in ‘n rantsoen beland.

Mieliekuilvoer uit ‘n voedingsoogpunt

Mieliekuilvoer is ‘n goeie bron van energie maar tree ook op as ‘n ruvoer. Daar is egter baie faktore wat in ag geneem moet word wanneer kuilvoer gebruik word as deel van ʼn voedingsrantsoen. Energie inhoud kan varieer, afhangende van die kwaliteit van fermentasie, die ouderdom van gewasse tydens oes, asook algemene bestuurspraktyke. Die variasies moet in ag geneem word wanneer algemene rantsoene saamgestel word. Styselinhoud van die kuilvoer is ook ‘n belangrike aspek wat energie kan affekteer. Styselinhoud word nie net bepaal deur die hoeveelheid graan op die plant nie, maar ook deur die graan tot plant verhouding.

Algemene tendense in vandag se tyd is om ‘n plant te hê wat hoë, droë materiaal opbrengste verskaf en dit is dikwels die geval dat die styselverhouding verlaag. ‘n Derde faktor wat ‘n belangrike rol speel tydens formilasie is die voginhoud van die kuilvoer. Klein verskille in vog kan groot verskille in droë massa inname en algemene rantsoenbalansering veroorsaak. Dit is belangrik om gereeld monsters te neem van kuilvoer aangesien vog kan verskil soos daar deur die bunker beweeg word. Die laaste faktor wat indirek ʼn rol kan speel op voeding, is die vorming van muf en mikotoksiene in die kuilvoer. Daar kan algemeen aanvaar word dat mikotoksiene in feitlik alle kuilvoer aanwesig is. Swak bestuur sal egter die probleem vererger. Mikotoksienbinders kan algemeen gebruik word om die effek van die mikotoksiene in kuilvoer tot ‘n groot mate te bekamp. Dit is egter nie ‘n oplossing vir die probleem nie en die oplossing moet eerder gesoek word by die algemene bestuurspraktyke van die kuilvoer op die plaas.

Opsomming

Kuilvoer is ‘n hulpbron wat volledig in die boer se mag lê om dit suksesvol te produseer en aan te wend. Die inkuiling periode is selde meer as twee weke van die jaar en indien dit reg bestuur word, sal dit die boer ‘n voordeel gee vir die res van die jaar. Sou dit dan nie wys wees om tydens die periode al u aandag aan die maak van kuilvoer te spandeer nie? ‘n Boer het eendag gesê: “Die koeie eet nie my verskonings nie” en dit kan in die geval van kuilvoer nie meer korrek wees nie.