Die noodsaaklikheid van kruipvoer

01 May 2016

Soos gepubliseer in PORCUS – Mei 2016  Tydens spening is daar duidelike veranderinge in die histologiese en biochemiese eienskappe van die middelste deel van die dermkanaal (klein ingewande) soos byvoorbeeld villose atrofie en hiperplasie van die pepiloriese gedeelte van die maag wat verterings- en absorpsievermoë verminder en bydra tot naspeningsdiarree.

Spesiale aandag moet geskenk word aan die rol van voedsel (energie) inname as ʼn mediator van dermstruktuur en funksie, alhoewel ander invloede, soos die bron van proteïne wat by die dieet gevoeg word, saam met die voerinname kan reageer om die struktuur en funksie van die derms te verander. Dit is ʼn duidelike produksieprobleem en toekomstige navorsing op gebiede soos die manipulsasie van die onvolwasse verteringskanaal met eksogene groeifaktore en/of dieetkundige aanvullings met nie-essensiële aminosure soos glutamien blyk geregverdig te wees.

Die verskaf van kruipvoer is een manier om die veranderinge tydens spening glad te laat verloop met minimale prestasiekontrole. Die voer van kruipvoer is die “kuns” om ʼn vaste voer aan varkies, wat steeds suip, te voer en sodoende die spysverteringskanaal vir spening voor te berei. Dit inisieer en bevorder die derm- en spysverteringskanaal om nutriënte (voedingstowwe) van ander voedselbronne as net die sog se melk te absorbeer. Dit bevorder voerinname wat een van die grootste uitdagings van voorspeningsprestasie is. Soos wat die speningsouderdom nader kom word die voer van kruipvoer belangriker en meer voordelig. Soos wat die kleinvarkies groei, vermeerder hulle behoefte aan nutriënte en met die toename in ouderdom word die aanvraag na nutriënte meer as wat die melk van die sog kan voorsien, aangesien ʼn sog se melkproduksie op drie weke ʼn piek bereik en daarna geleidelik verminder. Dit is dieselfde beginsel as wanneer ʼn mens vir ʼn baba babakos soos “Purity 1, 2 en 3” voer.

Grondbeginsels vir die goeie benutting van kruipvoer

  • Hou die voer vars en skoon en buite die bereik van die sog
  • Begin blootstelling aan kruipvoer teen 3 tot 5 dae oud, of volgens die voorskrifte van die vervaardiger
  • Begin deur die kruipvoer op ʼn plat oppervlak, byvoorbeeld ʼn vlak voerbak (swaar metaal of plastiese voerbakke wat in die openinge op die horkiesvloer haak) aan te bied
  • Plaas voerbakke naby die kleinvarkies maar nie in direkte sonlig nie, aangesien die voer dan gouer onfris sal raak en hou ook die voer weg uit die gedeelte van die hok waar die varkies mis
  • Begin met klein hoeveelhede kruipvoer wat ten minste twee keer per dag (verkieslik meer) met vars voer vervang word Verwyder altyd alle oorskiet kruipvoer – slegs oorblywende kruipvoer wat geen medikasie toevoegings bevat mag aan die sog gevoer word
  • Bied die kruipvoer aan terwyl sôe gevoer word en kleinvarkies aktief is en dit onwaarskynlik is dat kleinvarkies vir ʼn geruime tyd gaan soog
  • Moenie oorvoer nie – voer soos wat die eetlus van die kleinvarkies dikteer. Dit is hierin waar die “kuns” van die proses lê
  • Begin met klein voertrôe of hervul die vlak voerbak meer dikwels as werpsels goed eet
  • Maak alle vuil voertrôe of voerbakke skoon
  • Stoor kruipvoer in ʼn koel plek en maak sakke altyd toe om te verhoed dat die kruipvoer die reuke van die kraamsaal opneem en om te verhoed dat kruipvoer galsterig word
  • Hoe meer tyd en moeite daar aan die voer van kruipvoer gegee word hoe meer sukses sal behaal word
  • Onthou altyd die belangrikheid van die sog. Dit is uiters belangrik dat haar melk ten volle benut word. Sy sal die meeste van die varkie se voedingstowwe voorsien. Kruipvoer help met die ontwikkeling van die varkie se spysverteringskanaal en pas dit aan vir die benutting van vaste voer. Kruipvoer het ʼn minimale invloed op die speengewig van kleinvarkies

Die noodsaaklikheid van die gebruik van kruipvoer

  • Die aanvulling van kruipvoer is ʼn waardevolle proses wat slegs die moeite werd is as dit korrek gedoen word. Dan word die beste resultate verkry
  • Kruipvoer maak die kleinvarkie gewoond aan die eet van vaste voer en stel die kleinvarkie bekend aan wat sy dieet gaan wees nadat hy gespeen is. Navorsing het bewys dat soos wat die inname van kruipvoer vermeerder word die moontlikheid van diarree by kleinvarkies na spening minder
  • Deur die sog se melk met kruipvoer aan te vul is dit moontlik dat verbeterde voor- en naspeningsprestasies verkry kan word wat lei tot ʼn algemene verbetering in netto opbrengs
  • U behoort ʼn gemiddelde kruipvoer-inname van 500 g tot 700 g per kleinvarkie met spening op 26 tot 28 dae oud te verwag, maar nie alle eenhede is presies dieselfde nie. Kleinvarkies wat op 21 dae oud gespeen word, sal beduidend minder kruipvoer inneem en kleinvarkies wat later gespeen word sal beduidend meer kruipvoer inneem
  • Of u hierdie inname (500 g tot 700 g per kleinvarkie) verwesenlik of nie u moet opnames maak van huidige kruipvoerinname en mik op 100 g bykomend vir die hoeveelheid wat elke kleinvarkie tans inneem
  • Mik op ʼn werpsel speengewig van ten minste 90 kg

Verwysings:   www.wageningendadacemic.com, www.thepigsite.com/artides/4226/creep-feeding, Voluntary feed intake in pigs – David Torrrallardona & Eugene Roma – 2009, Auction for productivity pork.ahdb.org.uk/media/1987/action-creep-feeding