Die “vryloop-rewolusie”

01 March 2017

Soos gepubliseer in Pluimvee Bulletin – Maart 2017 Deel 1: In hierdie twee artikels gee ek graag 'n oorsig oor veranderinge wat tydens die afgelope paar jaar dwarsoor die wêreld plaasgevind het in die lêhoenderbedryf ten opsigte van vrylopende hoenders. In die tweede artikel sal ek 'n paar opsies bespreek wat beskikbaar is vir die Suid-Afrikaanse produsente.

‘n Vinnige oorsig

McDonald's se besluit, in September 2015, om slegs eiers te gebruik van hoenders wat in vrylopende fasiliteite grootgemaak is, het ʼn keerpunt gebring in die globale eierbedryf. Die maatskappy, wat twee miljard eiers per jaar in die VSA alleen verbruik, het aangekondig dat hulle hulself daartoe verbind om na 2025 nie meer eiers te verbruik wat afkomstig is vanuit die konvensionele “battery” hokke nie. Na dié aankondiging het verskeie voedselkorporasies besluit om ook dié roete te volg. Aan die begin van 2016, het die aantal maatskappye wat van voorneme is om eiers van vrylopende lêhoenders te gebruik eksponensieel toegeneem.

Teen April het byna 50 kruideniersware-kettingwinkelgroepe en 'n verdere 40 restaurantgroepe aangekondig dat hulle hul aankoopbeleid gaan verander en in Mei alleen het 'n verdere 30 Amerikaanse maatskappye bevestig dat hulle hul maatskappybeleid in lyn gaan bring met die nuwe sentiment saam met voedselverskaffers en  passasierskeepsagentskappe  (WattAgNet). Sysco Corps, die wêreld se grootste voedseldiensverspreider, het hom daartoe verbind om teen 2026 slegs eiers van vrylopende lêhoenders  regoor die hele VSA aan te koop. Met verkope van $48,7 miljard in 2015 is dié maatskappy groter as McDonalds en voeg dit aansienlike gewig toe aan die beweging weg van batteryboerdery (ecowatch.com). Walt Disney het onderneem om teen die einde van 2016 slegs eiers van vrylopende lêhoenders in sy parke en op sy passasierskepe te gebruik.

Hierdie nuwe beleid het die besluite van ander maatskappye se oorgang na die nuwe beleid help versnel. Vir diegene op soek na plaaslike relevansie, het multinasionale kleinhandelkorporasies soos Walmart (Makro / Game / Jumbo Cash & Carry) in April aangekondig dat hy die oorgang in sy Amerikaanse bedrywighede sou maak teen 2025, terwyl Nestlé bevestig het dat hulle hul Amerikaanse eierverskafferslyn binne die volgende vyf jaar in lyn sal bring met die nuwe beleid. Kellogg's en Unilever het ook aangedui dat hulle hierdie nuwe beleid sal steun.

Beoordeling van welsynskwessies

Die welsyn van plaasdiere is 'n emosionele kwessie. Daar is bewyse dat die beoordeling van welsynskwessies sinvol moet wees. Baie vordering is sedert die 1960's gemaak (toe teenkanting teen intensiewe boerderymetodes aanvanklik geopper is) in die ontwikkeling van die objektiewe en wetenskaplike beoordeling van die welsyn van voëls. ’n Hen se welsyn kan in terme van die volgende faktore beskryf word: gedrag, siekte, spanning, voet- en skeletgesondheid, parasitiese plae, voeding en affektiewe toestande (soos vrees, pyn, frustrasie) (Lay et al, 2011). Diereregte-aktiviste het sterk gefokus op natuurlike gedrag, affektiewe toestande en skeletgesondheid en was baie uitgesproke in hul teenkanting van grootskaalse boerderypraktyke, waartydens hul somtyds objektiewe gesondheidspraktyke geïgnoreer het. Produsente moet egter nie hulself mislei nie. Konvensionele batteryhokke kan slegs op grond van koste-effektiwiteit en siektebeheer geregverdig word.

Beperking van gedrag

Portuurbeoordeelde wetenskaplike navorsing het getoon dat die konvensionele hokstelsels lêhenne die geleentheid ontneem om 'n aantal van die belangrikste gedragspatrone wat fundamenteel is vir hul algemene gesondheid uit te leef; wat weer verhoogde vlakke van frustrasie, pyn en stres tot gevolg het. Hierdie belangrike gedrag sluit die geleentheid om 'n nes te bou, vere glad te stryk, die liggaam te strek en vlerke te klap, skrop vir sitplek en  stof-bad in. Hoenders ervaar dus omgewingstoestande wat hulle belangrike inherente gedrag ontken en hulle moet maniere vind om in hierdie omgewings te oorleef. Hul gedrag neem dan abnormale patrone aan, wat op hulself gerig is of op die ander hoenders in die hok  wat gevolglik kan lei tot die uitpluk van vere, kannibalisme of ander stereotipiese gedrag.

Die Europese Unie het sedert 1999 amptelik erken dat die voorkoming van natuurlike gedrag in lêhenne 'n ernstige welsynskwessie is en het die gebruik batteryhokke vanaf 2012 verban. Dit het dus 'n halfeeu geneem om die probleem te erken (Brambell Verslag, 1965) en reaksie te kry ten opsigte van wetgewing. Daar is baie objektiewe wetenskaplike navorsing gedoen ten opsigte van hoenderwelsyn en hierdie navorsing word steeds voortgesit.

Probleme in hokke

Behalwe vir gedragsversteurings, kan konvensionele batteryhokke ook hoër vlakke van hiperkeratose in die voete van die lêhenne veroorsaak. Waar bestuur swak is en hokke se deure klein is, kan hoër vlakke van nuwe beenbreuke tydens oorbevolking plaasvind. Dit kan vererger word deur ʼn bros skelet (osteoporose) as gevolg van 'n gebrek aan oefening en die afwesigheid van skropplek. Besmetting met sekere myte en luise kan voorkom word as gevolg van die behuising van groot getalle hoenders in klein ruimtes. Beperkte ruimte verhoed dus ook dat die lêhoenders gewone / natuurlike versorgingsprosedures volg om hierdie besmettings op ’n meer normale manier te beheer.

Voordele

Daar is natuurlik ook 'n paar voordele ten opsigte van die konvensionele batterystelsels, selfs vir die hoenders. Hulle ontlasting word verwyder en hulle word sodoende beskerm teen 'n aantal siektes, parasiete en plae. Vrektes in konvensionele batteryhokke is minder as in skure en vrylopende stelsels, maar steeds hoër as in verrykte hokstelsels. Daar is ook minder stof en dus laer respiratoriese probleme in konvensionele batteryhokke as in verrykte hokstelsels en skure en bakteriële infeksies wat deur die lug versprei word, is ook laer. Dit is maklik om henne in konvensionele batterystelsels van hoë gehalte voeding en skoon water te voorsien.

Verrykte hokstelsels

Verrykte (toegeruste) of koloniehokstelsels word tans op groot skaal in die Europese Unie gebruik. Dit help hoenders om 'n groter mate van hul natuurlike gedrag uit te leef. Hierdie stelsels gee die hoenders bykomende ruimte, 'n geleentheid om te skrop, 'n nes en 'n area om te bad. Daar is egter steeds beperkinge in terme van ruimte om hul vlerke te klap en te loop of rond te hardloop, maar die voordele van konvensionele batteryhokke in terme van siekte- en stofbeheer en 'n hoë besettingsdigtheid word steeds gehandhaaf.

Stellasies het die voordeel dat beensterkte verbeter, mits hulle so geposisioneer word dat landings nie verdere breuke veroorsaak nie. Vrylopende fasiliteite, soos voëlhokstelsels, skure of vrylopende stelsels, bied meer komplekse omgewings aan die hoenders en stel hulle in staat om meer natuurlike gedrag te openbaar en om sosiale en termiese keuses te maak. Hierdie verhoogde vryhede kan ook onder swak bestuur lei tot negatiewe welsynskwessies, soos uitpluk van vere, kannibalisme, swak luggehalte, bakteriële siektes, parasiete en plae, meer ernstige voetprobleme en die noodsaaklike knip van die snawels.

Koste versus welsyn

Daar is 'n neiging onder produsente om te argumenteer dat die koste-effektiwiteit en siektebeheer in konvensionele batterystelsels die enigste lewensvatbare produksiestelsel in 'n honger wêreld is, maar hierdie argument ignoreer 'n halfeeu van deeglike navorsing oor die welsyn van lêhenne en speel dus in die hande van die diereregte-aktiviste. Alternatiewe stelsels en swak bestuur mag hoër vrektes, kannibalisme, uitpluk van vere, vloereiers, stofprobleme, ens. tot gevolg hê, maar dit is byna altyd moontlik om hierdie probleme te verminder deur middel van verbeterde bestuur of teling en implementering van die duisende wetenskaplike bevindings wat in die literatuur beskikbaar is.

Met konvensionele hokke is dit duidelik dat geen invloed van verbeterde bestuur vir die swak welsynskwessies kan vergoed nie. Wetenskaplike bewyse dui aan dat produsente op wankelrige grond is as hulle probeer om batteryproduksiestelsels as menslik te verdedig.

Die behoefte aan verandering

Die eierbedryf spog met een van die wêreld se mees volledige en maklik bemarkbare produkte. Dit is 'n gesonde, natuurlike, voedsame en veelsydige produk. Eiers kan op hul eie geëet word of ingesluit word in verskeie produkte met toegevoegde waarde. Dit is 'n internasionaal aanvaarde produk en word deur alle ouderdomsgroepe, geslagte, gelowe en kulture benut. As 'n bedryf het ons nie 'n probleem om onbeperkte hoeveelhede van hierdie ongelooflike produk te verkoop nie.

In Suid-Afrika is die per capita eierverbruik moontlik die helfte van wat dit kan wees. Verskeie ander lande regoor die wêreld het ook die moontlikheid raakgesien om hul eierverbruik te verhoog tot die vlakke wat gesien word in Japan, China en Mexiko. Oor die afgelope paar jare is die kommer oor cholesterolvlakke, wat eierverkope negatief beïnvloed het, uit die weg geruim deur wetenskaplike navorsing. Dus, wat mag in die pad staan van verhoogde eierverkope in Suid-Afrika en regoor die wêreld? Eenvoudig: welsynskwessies.

Die eierbedryf se gesonde beeld en ons geleenthede vir reklame en promosie, is nadelig geraak deur vier tikkende-bomme; konvensionele stelsels, die verkoop van manlike kuikens (hane), die knip van die snawels en die behandeling van ou henne. Al hierdie probleme word tans deur produsente en regerings in die EU en die VSA aangespreek. Die welsyn van lêhenne is vinnig besig om 'n "horison kwessie" vir Suid-Afrikaanse produsente te word. 'n Kwessie wat diepgaande gevolge vir produsente kan hê as ons dit nie betyds erken, evalueer en effektief daarop reageer nie.

Die spoed waarmee groot Amerikaanse- en Britse maatskappye hul verbintenis tot vrylopende produksie aangekondig het, demonstreer hoe vinnig 'n verskuiwing ingestel kan word in 'n bedryf wat nie genoeg aandag geskenk het aan die eksterne landskap nie. 'n Voorbeeld van die Amerikaanse eierprodusente (behuising van oor 125 miljoen henne) het hul voorspelling van watter deel van henne in nie-ingehokte stelsel sou wees van 13,7% 2025, tot 40,6%, in 2015 gegee. Dit is die spoed waarmee die bedryf gedwing word om te verander (Top Egg Companies Survey, WattAgNet).