Energiebronne en die gebruik daarvan

01 August 2016

Soos gepubliseer in Veeplaas – Augustus 2016   Die vraag is egter, is dit vandag nog die beste roete om te volg, en tot watter mate kan ons grane veilig gebruik en hoe koste-effektief is dit nog vandag? Dieselfde vraag geld vir melasse. Beide bronne van energie is heelwat duurder as ‘n aantal jaar gelede. Ons kry ook nie meer werklik melasse soos wat ons dit in die verlede geken het nie, weens die gebruik daarvan om etanol te vervaardig. Tans is meeste beskikbare bronne van melasse ‘n mengsel van melasse en CMS waarby baie van die suikers in die fermentasieproses van etanolvervaardiging verlore gegaan het.  

Daar is toenemende bewyse dat die volgehoue gebruik van hoë graanvlakke (stysel) ‘n aantal negatiewe gevolge vir herkouers inhou soos:

  • Asidose wat baie bekend is aan ons almal en wat lei tot blywende skade aan die rumenwand, verswakte prestasie en selfs mortaliteite
  • Laminitis is een van die gevolge van die volgehoue gebruik van voer met hoë styselvlakke en asidose; wat aanleiding gee tot hoefprobleme (Cook 2004). Hierdie toestand word gekenmerk deur misvormde hoewe, uitgroei van hoewe ens. (Blowey 1993). Ek wonder soms hoeveel van wat ons ken as vrotpootjie, nie dalk eerder gevalle van laminitis is weens die oorgebruik van graan as voerbron nie
  • Histamiene: Garner et.al (2002) het ook bewys dat die volgehoue gebruik van hoë graanvlakke in rantsoene, die afskeiding van Histamiene verhoog. Histamiene is ‘n inflamatoriese agent wat tot inflammasie en bloeding lei
  • Vrugbaarheid: Kanadese navorsing het ook bevind dat die volgehoue gebruik van hoë styselbronne deur graaninsluiting vrugbaarheid by reproduktiewe diere tot soveel as 50% kan benadeel. Dit word veroorsaak deur vetneerlegging rondom die testis van bulle wat hitte regulering beïnvloed en die eierstokke van verse. Wanneer hierdie diere op ‘n uithongeringsdieet geplaas word, is dit die laaste vet wat sal verdwyn. Maak ons nog vervangingsdiere met graanrantsoene groot?

So wat is die antwoord?  Is die gebruik van graan dan taboe? Nee glad nie, maar die oordeelkundige gebruik daarvan moet sterk oorweeg word. Graan is ‘n bron van vinnig-verteerbare stysel wat in oormaat gevoer nadelig kan wees. Hierdie bron moet eerder gekombineer word met ander energiebronne soos semels, oliekoeke, vette, suikers en energieryke veselbronne wat stadiger verteer en tesame ‘n meer geleidelike vrystelling van energie in die rumen verseker. 

SFos

De Heus formuleer op hierdie wyse deur die SFOS-stelsel, en gebruik gevolglik tot ‘n kwart van die graan wat in tradisionele volvoere gebruik sou word. Dit beteken soms dat die totale rantsoenkoste duurder is per ton, maar die verhoging in effektiwiteit van die rantsoen in die rumen gee ‘n baie beter voeromsetverhouding (kg voer verbruik om ‘n kg karkas aan te sit) dat dit die winsmarges positief beïnvloed. Dit beteken ook dat ‘n finale rantsoen uit soveel as 13 tot 15 verskillende grondstowwe sal bestaan in plaas van 5 tot 6 (waarvan graan die oorgrote meerderheid sou uitmaak) om by die perfekte energieprofiel uit te kom.

Hierdie verhoogde effektiwiteit beteken ook in baie gevalle dat dit soms beter is om graan te bemark en meer gebalanseerde volvoere in te koop as om ‘n tuismengsels daarmee met hoë insluitingsvlakke te probeer meng. Dit verlig ook die druk op arbeid, mengkoste, slytasie en aanspreeklikheid.

De Heus het tientalle gevallestudies waar tuisgemengde hoë graanrantsoene teen volvoere by kliënte getoets is (skaapvoerkrale, beesvoerkrale, groeitoetse) en die resultate sterk ten gunste van volvoere is. Ons sien ook dat stoetboere se persentasie vrugbare bulle aansienlik verbeter het deur hierdie benadering.