Faktore wat die effektiwiteit van voeding in skaap- en beesvoerkrale beïnvloed

01 October 2017

Gemiddelde daaglikse toename (GDT) is die norm waaraan voerkraalprestasie gewoonlik gemeet word. Twee van die belangrikste faktore wat die grootste effek op die winsgewendheid van ’n voerkraal het, is uitslagpersentasie en voerdoeltreffendheid. Voerdoeltreffendheid of voeromsetverhouding (VOV) word bepaal deur die hoeveelheid droë materiaal wat vee inneem in vergelyking met hul daaglikse gewigstoename.

Daar is baie faktore wat VOV beïnvloed. Deur die faktore te verstaan en te verbeter kan voerkrale se winsgewendheid verbeter word.

Die faktore wat VOV beïnvloed kan in verskeie kategorieë ingedeel word:
Omgewingsfaktore:
  • Modder in die kraal

Modder kan ’n groot invloed op die GDT en VOV van diere in ’n voerkraal hê. Diere wat in modderige toestande gehuisves word verbruik meer energie. Dus is daar minder energie beskikbaar vir produksie. Modderige toestande naby voerbakke ontmoedig ook beeste om te eet, wat lei tot verminderde inname en laer produksie. Die effek van modder in die kraal op groei en VOV word in Tabel 1 uiteengesit (soos beskryf deur Bruce, 1984):

Tabel 1: Die effek van modder diepte op GDT en VOV in ‘n beesvoerkraal (Bruce, 1984, South Dakota State University)

Dit is dus belangrik om krale teen ’n helling te bou met goeie dreinering. In die rëenseisoen kan die hoeveelheid diere per kraal ook verminder word om die modder in die kraal te beheer.

  • Temperatuur en humiditeit

Die temperatuurhumiditeitsindeks (THI) is ’n maatstaf wat sedert die vroeë 1990's gebruik word. Dit verteenwoordig die gekombineerde effekte van omgewingstemperatuur en relatiewe humiditeit, en is ’n nuttige en maklike manier om die risiko van hittestres te assesseer. Beeste se termies neutrale sone is tussen 15°C en 25°C, dit verskil wel tussen rasse. Die effek van hittestres kan verminder word deur die voedingsessies na die koeler tye van die dag te skuif. Genoegsame vars water en skaduwee sal ook ’n positiewe invloed op voerinname hê. Wanneer die dagtemperatuur bo 27°C styg, drink beeste tot 7,5 ℓ water per 45 kg van hul liggaamsmassa. ’n Kalf van 400 kg kalf sal dus ongeveer 66 ℓ water drink.

Dierlike faktore:
  • Die liggaamskondisie van diere

Die kondisie van beeste wanneer hulle in die voerkraal ingaan kan die doeltreffendheid van voer beïnvloed. Die meeste navorsing dui daarop dat beeste wat effens onder-gekondisioneerd is aanvanklik kompensatoriese groei op hoë energievoeding sal hê. Hierdie kompensatoriese groei kan die voerdoeltreffendheid met 5 - 10% verhoog in die eerste 60 dae van voeding. Beeste wat oorgekondisioneerd is, het verhoogde onderhoudsbehoeftes met gevolglike laer voerdoeltreffendheid.

  • Karkasgradering

As beeste bo hul ideale markgewig gevoer word en te veel vet neerlê, sal dit die VOV aansienlik verlaag. Minder voer word benodig om spiermassa neer te lê, as vir dieselfde gewig in vetneerlegging. Die ideale slagdier moet ‘n A2 karkas gradering hê.

  • Ouderdom

Ouderdom van kalwers het ook ’n invloed op hul VOV. In proewe deur Adams et al. (Effects of sorting steers by body weight into calf-fed, summer yearling, and fall yearling feeding systems. Prof. Anim. Sci. 26:587-594) het kalwers wat direk na speentyd begin voer is, die beste voer-doeltreffendheid gehad.

  • Geslag

Die aankoopprys van bulkalwers is gewoonlik hoër as dié van verse. Bulkalwers groei gemiddeld 8 - 10 persent vinniger as verskalwers met ’n 6 - 8 persent beter VOV. Verse is minder doeltreffend omdat hulle 'n ligter volwasse gewig het. Die winsgewendheid van bulkalwers in die voerkraal is dus hoër.

  • Ras

As 'n reël het Europese rasse ‘n beter VOV as Zebu tippe rasse, maar daar kan net soveel variasie binne 'n ras as tussen rasse wees.

Voeding:
  • Verhouding tussen ruvoer en kragvoer in die rantsoen

Hoër vlakke van kragvoer in verhouding tot ruvoer in ’n voerkraalrantsoen sal die VOV verbeter in vergelyking met ’n meer konserwatiewe ruvoergebaseerde dieet. Die aanpassing van ’n vesel- na ’n graandieet is baie belangrik. Indien diere nie voldoende aangepas word nie verhoog die risiko op rumen-asidose. Diere met rumen-asidose het ’n laer DMI en GDT. Oor die algemeen sal verhoogde ruvoer in die rantsoen die voeromsetverhouding negatief beïnvloed, terwyl dit aan die ander kant die koste van die rantsoen verlaag, en die sleutel tot optimum winsgewendheid lê in die balans tussen die twee komponente. In meeste gevalle het ’n verhoogde voerdoeltreffendheid hoër winsgewendheid.

  • Prosessering van graan

Graanprosessering kan ook voerdoeltreffendheid en algehele winsgewendheid verbeter. Mielies, wat meestal as energiebron in voerkrale gebruik word, se verteerbaarheid is aansienlik hoër indien dit gemaal of gekraak word. Die koste verbonde aan prosessering mag egter nie altyd ekonomies wees nie, aangesien die bykomende koste soms nie deur die verbeterde prestasie uitgekanselleer word nie.

  • Proteïne

Om aan die proteïenbehoeftes van voerkraalbeeste te voldoen, kan ’n groot invloed hê op die verbetering van die voerdoeltreffendheid. Jong groeiende diere in die voerkraal het groter proteïenbehoeftes (13 – 15%) as ouer diere (11 – 13%), aangesien jonger diere meer spierneerlegging in vergelyking met ouer diere het.

Voerbymiddels en implantate:

Die gebruik van voerbymiddels en implantate word algemeen in die vleisproduksiesektor gebruik. Dit het beduidende verbeteringe in voerdoeltreffendheid gebring.

Van die bymiddels wat gebruik kan word om die omskakeling van voer te verbeter, sluit in:
  • Ionofore

Ionofore het die vermoë om die rumenbakteriese populasie te verander en dit lei tot verbeterde rumenfermentasie. Ionofore speel ook ’n rol in die voorkoming van asidose. Deur ionofore in die voer te hê, verbeter die VOV van die voer met 6 - 12%. Die mees algemene ionofoor wat in voerkraal- rantsoene gebruik word, is Monensin.

  • Beta-agoniste

Beta-agoniste is die ander belangrike bymiddel wat aan die einde van die voedingsperiode aan beeste gevoer kan word om karkasgewig te verhoog, en sodoende die doeltreffend van die voer te verbeter. Op ’n lewendige gewig is daar nie  dramatiese verbetering in voerdoeltreffendheid nie, maar wel teenoor die finale karkasgewig.

  • Implantate

Implantate bevat natuurlike of sintetiese verbindings wat op dieselfde manier as hormone werk.  In die algemeen verhoog die implantering GDT vir die hele voedingsperiode met 10 - 15% en verbeter die VOV met 8 - 12%. Voeding moet aangepas word by die tipe implantate wat gebruik word.

Al die bogenoemde elemente het ’n invloed op die dier se prestasie in die voerkraal. Deur die voedings-, dierlike- en omgewingsfaktore te bestuur, kan die winsgewendheid van die voerkraal verbeter word.