Faktore wat kolostrum- en melkproduksie in varke beinvloed

02 February 2016

Met varkboerdery word die winsgewendheid hoofsaaklik beïnvloed deur die sog en haar aanteelvermoë. Die sog se prestasie word hoofsaaklik bepaal deur die grootte van haar werpsel en hul geboortegewig, speengewig en die aantal werpsels per jaar. Die prestasie van die werpsel voor spening word hoofsaaklik beïnvloed deur die sog se kolostrum- en melkproduksie. Die groeikoers na spening word beïnvloed deur die speengewig, die na-speen mortaliteit en melkproduksie van die sog. Gedurende die eerste twee weke na geboorte is die werpsel afhanklik van die sog se melk vir voeding. Deur dus die voedingswaarde te verhoog moet die sog genoeg melk produseer.

Sogkolostrum

Kolostrum is 'n vorm van melk wat geproduseer word deur die melkkliere van soogdiere in laat dragtigheid en die paar dae na geboorte (Volledige gids tot kolostrum, 2012). Kolostrum word direk deur die uier afgeskei onmiddellik na jonging en is 'n ryk bron van hoogs verteerbare voedingstowwe, wat van uiterse belang is vir die oorlewing van die pasgebore varkies (Pigsite, 2008). Binne 'n paar uur verander die samestelling van die kolostrum vinnig na normale melk wat die sog produseer. Die varkies word gebore met baie min teenliggaampies wat nodig is om hulle te beskerm en te laat floreer en daarom is die inname van kolostrum uiters belangrik.

Die hoogste inname van kolostrum in die pasgebore varkies is gedemonstreer 4 ure na geboorte en bereik die hoogste intensiteit tussen 8 en 12 uur na geboorte, waarna dit begin daal (Szeky, et al, 1979). Dit is daarom van uiterste belang dat die pasgebore varkies so vinnig as moontlik die geleentheid kry om kolostrum in te neem, om die maksimum voordeel te kry van die passiewe immuniteit, deur die sog se kolostrum, voordat absorpsie begin daal. Die mees kritieke stadium van oorlewing vir die varkies is in die eerste 2 dae na geboorte. Die oorsake van die vroeë mortaliteit sluit in verminderde energie weens hipoksie tydens jonging, hipotermie en 'n gebrek aan kolostruminname (Malmkvist, et al., 2006). Daarom is 'n vroeë en 'n hoë inname van kolostrum so belangrik vir die oorlewing van varkies in die eerste 2 dae na geboorte.

Faktore wat kolostrum- en melkproduksie beïnvloed

Die produksie van kolostrum in sôe is baie wisselvallig en die faktore wat dit veroorsaak is nie wel bekend nie. Verbeterde kolostrumproduksie kan bereik word deur die vermindering van die stres voor, gedurende en na jonging asook deur te verseker dat die sog onbeperkte toegang het tot vars drinkwater. Die genoegsame inname van water het 'n groot invloed op voerinname. In laat dragtigheid kan die waterinname wissel van 8 - 12 ℓ/dag. Tydens jonging kan dit daal tot ongeveer 6 ℓ/dag. Gedurende laktasie kan dit verhoog tot 'n gemiddeld van 14 ℓ (7 - 20ℓ /dag). Die watervloei moet nooit laer as 0,6 - 1,0 ℓ/min wees nie.

Eenvormigheid het 'n geringe invloed op melkproduksie met 'n neiging vir groter werpsels in die tweede en derde jongings as in die eerste jonging of met ouer sôe (De Villiers, et al., 2007). Sôe wat langer neem om hul 3rde tot 5de varkies te jong het 'n laer kolostrum opbrengs as die wat in ʼn korter tyd jong. Sôe wat meer stilgebore varkies het, produseer ook minder kolostrum as die met minder sterftes (Quensel, 2011). Dit mag daarop dui dat die sog wat stres tydens jonging minder kolostrum produseer.

Die invloed van voeding op die produksie van kolostrum

Voeding kan 'n uitwerking hê op die produksie van kolostrum deur die melkkliere en deur meganismes wat kolostrum afskeiding in laatdragtigheid beïnvloed. Instandhouding- van hoë-energie, aminosuur- en mineraalinnames is van uiterse belang om die sog vir 'n lang en ekonomies-lewensvatbare reproduktiewe siklus te hou. Oorvoeding gedurende laatdragtigheid het 'n negatiewe uitwerking op melkproduksie as gevolg van oormatige vetneerlegging in sôe (Boer en Sorsen, 2011).

Omgewingstemperatuur

Gedurende die droë somermaande sal sôe blootgestel word aan temperature bo hul thermo-neutrale sone gedurende die dag. Hierdie blootstelling aan hoë omgewingstemperature het 'n negatiewe uitwerking op die prestasies van sôe tydens laktasie. Verminderde voerinname lei tot afname in lewendige gewig, oormatige verlies van rugvet, veranderinge in natuurlike gedrag, vertraagde hittesiklus en vrugbaarheidskwessies. Sôe wat blootgestel word  aan hoë omgewingstemperature, mobiliseer hulle liggaamsreserwes om melkproduksie te ondersteun. Dit lei op sy beurt tot verminderde skildklieraktiwiteit wat 'n afname in die konsentrasie van die hormoon in die plasma van die lakterende sôe met 'n afname in die metabolisme en melkproduksie (Wung, 1977) het, maar deur die verlenging van 8 -16 ure lig, is 'n toename in melkproduksie in sôe opgemerk (Marbry, 1982). Dit kan toegeskryf word aan 'n toename van prolaktienvlakke of 'n verhoogde soogfrekwensie in die geval van 'n verlengde ligperiode.

Opsomming

Kolostrum- en melkproduksie word beïnvloed deur werpselgrootte, geboortegewig, eenvormigheid, stres voor- en tydens jonging en voeding
  • Kolostrum samestelling in sôe kan wissel
  • 20 - 30% van die vroeë varkie mortaliteit is weens 'n gebrek aan voldoende voeding en kan voorkom word deur te verseker dat die varkies warm gehou word en onmiddellik na jonging maksimum kolostrum inneem
  • Gebruik 'n gespesialiseerde dieet vir 1ste laktasie en maer sôe in laktasie
  • Minimaliseer alle nadelige uitwerkings op voerinname
  • 'n Toename in die gemiddelde voerinname kan die speengewig van die varkies verbeter en kan ook 'n groter werpselgrootte tydens die daaropvolgende jonging verseker

Implikasies

Die winsgewendheid van ’n varkproduksie-onderneming sal afhang van die bestuur van die sog tydens dragtigheid en jonging. Deur aandag te gee aan die sog tydens jonging, om seker te maak dat sy gemaklik is en aandag te gee aan haar gedrag, sal verseker word dat die varkies begin soog so gou as moontlik na jonging en sodoende hul kanse op oorlewing verhoog.

Sôe se voeding tydens dragtigheid en laktasie sal 'n uitwerking op die werpselgrootte, asook die werpselgewig by jonging en spening hê. Die liggaamstoestand van die sôe gedurende spening beïnvloed die speentyd, die aantal dekkings voor bevrugting en die daaropvolgende werpselgrootte. Vir maerder sôe wat na die jongingshuis geskuif word, is 'n maksimum verlies van 2mm rugvet voldoende. Vetter sôe behoort nie 'n probleem te hê in die omsetting van hul liggaamsreserwes om in die toenemende vraag na melkproduksie te voorsien nie. Sôe wat tydens spening óf te maer óf te vet is, kan langer neem om gereed te wees vir dekking.

Sôe wat nie optimaal gevoer word tydens laktasie nie, produseer minder melk, speen kleiner werpsels met laer gewig en kan uiteindelik lei tot die vroeë uitskot van teeldiere.

Verwysings is beskikbaar op aanvaar

  1. 1.   Complete guide to colostrum, 2012
  2. 2.   Farmer and Sorsen, 2011
  3. 3.   Malmkvist et al., 2006
  4. 4.   Marbry, 1982
  5. 5.   Pigsite, 2008
  6. 6.   Quensel, 2011
  7. 7.   Szeky, et al., 1979
  8. 8.   Wung, 1977