Ken jou raaigras Deel 1

24 February 2014

Ons ondervind steeds dat baie produsente glo dat maksimale produksie van weiding, en in hierdie geval Raaigras, ‘n aanduiding van suksesvolle weidingsbestuur is.  Soos in enige besigheid is wins die kern faktor wat sukses aandui.  In die geval van melkprodusente speel die produksie en benutting van weiding ‘n belangrike rol ten opsigte van hierdie belangrike besigheidsbeginsel, want selfgeproduseerde weiding is die goedkoopste bron van voer.

Verkry maksimale voordele

Om die maksimale voordeel uit jou weiding te verkry, is opbrengs nie die enigste belangrike faktor nie, maar speel faktore soos kwaliteit en optimale benutting van die Raaigras ‘n belangrike rol. Om hierdie uitdaging te oorkom, is dit belangrike dat produsente hierdie belangrike inset beter verstaan. Behalwe vir die produksie van Raaigras moet die produsent verstaan wanneer om die gras te benut en te herbenut, en wat in hierdie periode tussen die twee gebeur.

Die Raaigrasplant bestaan uit ‘n serie van onafhanklike halms wat saamgevoeg is as een plant. Alhoewel die verskillende halms by die basis van die plant verbind is, besit elke halm sy eie blare en wortelstelsel. Die vorming van halms word hoofsaaklik beïnvloed deur sonlig, voeding (veral stikstof) en temperatuur. Om die langslewendheid van die weidings te verseker is dit belangrik dat die lewensduur van ‘n halm, asook die vorming van nuwe halms bestuur word. So byvoorbeeld is die vorming van die eerste halm geheel en al afhanklik van die moederplant totdat eie blare en wortels gevorm het. Indien die moederplant in hierdie periode aan stres onderwerp word sal die halm moontlik afsterf.

Die lewensduur van ‘n blaar is gelykstaande aan die tydperk wat dit neem om drie blare per halm te vorm. Elke halm handhaaf drie blare, met die vorming van die volgende blaar sterf die oudste blaar af. Indien die blare nie benut word voor hierdie stadium nie sal dit vermors word. Nie net sal daar vermorsing plaasvind in terme van volume en kwaliteit nie, vlakke van verteerbaarheid neem ook af.

Die volgende blaar is gewoonlik groter as die vorige een. Ons sien dat te vroeë benutting ongewens sal wees in terme van volume droë materiaal benut en beweiding na die 3 blaar stadium sal lei tot vermorsing en kwaliteit verliese. (Figuur 1)
Tydens die fotosintese proses word daar glukose deur die halms gevorm en wateroplosbare koolhidrate (WOK) in die blare. Die WOK verskaf energie vir groei en respirasie. Oortollige WOK word in die onderste deel van die halm gestoor. Die WOK speel ‘n belangrike rol vir die handhawing van groei indien die plant nie genoeg energie deur fotosintese kan voorsien nie, byvoorbeeld na beweiding, oortrokke weer en in die nag.

Hergroei van die raaigrasplant

Na benutting van die weiding bly daar hoofsaaklik ‘n kort deel van die halm oor. (Figuur 2a)

Die oorblywende gedeelte van die halm mobiliseer die WOK reserwes om die oorblywende gedeelte van die jongste blaar te verleng. Wortelgroei asook die vorming van nuwe halms staak of is baie beperk. (Figuur 2b)
Die volgende volledige nuwe blaar vorm sy eie WOK deur die proses van fotosintese. Die meeste van die WOK word gebruik vir die vorming van die nuwe blaar en weinig word gestoor. Daar word steeds van die reserwe WOK gebruik. Op hierdie stadium begin wortelgroei hervat en dogter halms ontvang moontlik ondersteuning van die moeder halm. Weens die lae vlak van WOK is raaigras op hierdie stadium die mees sensitiefste vir beweiding. (Figuur 2c)

Wanneer die Raaigras plant die tweeblaar stadium bereik is die WOK reserwes voldoende herstel en die plant kan weer beweiding hanteer. Daar word ook WOK aan die dogter halm voorsien en nuwe halms begin vorm. Hierdie punt word beskou as die minimum weidings interval. (Figuur 2 d)

Die plant vorm ‘n volgende blaar, dus die derde blaar. Wortelgroei en halm vorming is nou optimaal en reserwe WOK word verder aangevul. Wanneer die vierde blaar gevorm word begin die oudste blaar afsterf. Op hierdie stadium begin die kwaliteit van die weiding afneem en word weiding vermors. Die stadium tussen die 3 en 3½ blaar stadium word beskou as die maksimum weidings interval. Die beste tyd vir beweiding is natuurlik tussen die twee intervalle. Alhoewel WOK ‘n groot rol speel by hergroei speel dit ook ‘n belangrike rol met die plant se voortbestaan tydens toestande van hitte, ryp en droogte.

Bronne: Principles for developing an effective grazing management system for ryegrass-based pastures – Danny Donaghy and Bill Fulkerson; Managing pastures – New South Wales Department of Primary Industries.