Kruipvoer - Begin voer op ’n jong ouderdom

01 May 2018

Daar is 'n paar belangrike redes waarom varkies in die kraamhuis reeds kruipvoer gegee kan word:

  • Varkies word gebore met lae vlakke van amilase en hoë vlakke laktase. Hierdie aanvanklike ensiemprofiel help die varkies met die vertering van melkproteïen, maar nie met die vertering van plant- en/of dierlike proteïene wat in volvoere voorkom nie. Die verskaf van voeraanvullings in die kraamhuis maak voorsiening vir 'n goeie begin met betrekking tot die verandering van hierdie ensiemprofiel.
  • Die sôe se melk en na-speenvoeding het albei ’n negatiewe effek op die lengte van die derm-villi. Hoe vroeër die varkies aan 'n soliede dieet blootgestel word, hoe minder sal diarree- en aanpassingsprobleme in ’n latere stadium ontwikkel.
  • Nog ’n rede vir die verskaf van kruipvoer vir aanvulling is om die aantal onderontwikkelde of wanaangepaste diere gedurende die eerste dae na spening te verminder en dit is voordelig vir beide die 21-dag- en 28-dag-laktasies.
Veranderinge wat ook met spening geassosieer word is merkbare veranderinge aan die histologie en biochemie van die dunderm, soos atrofie van die villi en kriptiese hiperplasie, wat verminderde spysvertering en absorpsievermoë veroorsaak en bydra tot na-spening diarree. Om die varkies so vroeg as moontlik aan vaste kos bloot te stel, help hulle om makliker aan te pas na spening wanneer hulle hele dieet uit vaste kos bestaan. Navorsing het ook getoon dat met die verhoging in kruipvoerinname die voorkoms van diarree na spening verminder.

Voerinname

Spesiale aandag moet aan die rol van voerinname (energie) gegee word as ’n tussenganger vir die dermstruktuur en funksie na spening. Daar is egter ook ander invloede soos die bron van proteïene wat by die dieet gevoeg word wat kan wissel met voerinname en wat die dermstruktuur en funksie kan verander. Hierdie is 'n area wat produksie beïnvloed en toekomstige navorsing op hierdie gebied; soos die manipulasie van die onvolwasse spysverteringskanaal met eksogene groeifaktore en/of dieetaanvullings met nie-noodsaaklike aminosure soos glutamien, is nodig.

Om op ’n vroeë ouderdom te begin eet is een manier om die oorgang by spening te verlig met minimale prestasieverlies. Kruipvoeding is die "kuns" om vastekos aan varkies te begin voer terwyl hulle nog aan die sog drink en dus hul spysverteringstelsels voor te berei vir spening. Dit bevorder en ontwikkel die derm- en spysverteringskanale, waardeur die varkie voedingstowwe kan begin verteer uit ander voedselbronne as dié van melk. Dit moedig voedselinname aan, wat een van die grootste uitdagings is om na-spening te verrig. Kruipvoer word toenemend belangrik en voordelig aangesien speenouderdom toeneem. Namate varkies groei, neem hulle vereistes vir voedingstowwe toe en hierdie vereistes word uiteindelik meer as wat die sog met die verskaffing van melk kan voorsien, aangesien  melkopbrengs  op ongeveer drie weke ’n piek bereik en dan stadig afneem.



Figuur 1. Varkies groei slegs op melk teenoor melk plus kruipvoer

Bevorder kruipvoerinname:

  • Om die oorgang so glad moontlik te maak, voer dieselfde kruipvoer voor spening en onmiddellik daarna.
  • Voer goeie gehalte, smaaklike en hoogs verteerbare voer wat varkies smaaklik sal vind.
  • Verseker dat daar vars water beskikbaar is, aangesien dit die inname van die voer beïnvloed.
  • Pille en mengsels van pille en meel is ook baie effektief, en veroorsaak gewoonlik minder vermorsing.
  • Hou kruipvoer weg van hoeke, drinkbakke en verhittingslampe om die waarskynlikheid van verrotting van voer te voorkom.
  • Daar sal in elke werpsel varkies wees wat niks eet nie, selfs al eet die ander varkies goed; kyk uit vir hierdie varkies en bestuur hulle versigtig om te verhoed dat hulle nie voldoende groei nie.

Basiese bestuur van goeie kruipvoervoorsiening:

  • Hou kruipvoer vars en skoon en buite bereik van die sôe.
  • Begin blootstelling aan kruipvoer op 3 tot 5 dae ouderdom, of volgens die vervaardiger se aanbevelings.
  • Begin deur die kruipvoer op 'n plat oppervlak te sit, bv. op 'n vlak skinkbord (swaar metaal of plastiekbakkies kan aan die kant vashaak).
  • Plaas voerbakke naby aan die varkies, maar nie onder direkte hitte nie, aangesien dit die voer se vars smaak sal beïnvloed; hou dit ook weg van die ontlastingsareas.
  • Begin met baie klein hoeveelhede voer en vervang dit minstens twee keer per dag, selfs meer kere indien moontlik. Verwyder altyd alle kruipvoer wat nie geëet is nie. Slegs afvalkruipvoer sonder medikamente kan aan die sôe gevoer word.
  • Voer kruipvoer terwyl die sôe self vreet aangesien die varkies dan self aktief is en nie dan drink nie.
  • Moenie oorvoed nie – voer volgens die varkies se eetlus.
  • Begin met klein hoeveelhede en voer soos die varkie meer eet.
  • Maak altyd vuil bakke en trôe skoon.
  • Die sukses met die voer van kruipvoer hang af van die toegewydheid van die bestuur en personeel.
  • Onthou die belangrikheid van die sog: dit is noodsaaklik om die melkopbrengs te maksimaliseer aangesien sy die meeste voeding aan die varkies voorsien. Kruipvoer help die derms om te ontwikkel en aan te pas om vaste voer te gebruik en het 'n minimale invloed op speengewig.
Verwysings: www.wageningendadacemic.com, www.thepigsite.com/artides/4226/creep-feeding, Voluntary feed intake in pigs – David Torrrallardona & Eugene Roma – 2009, Auction for productivity pork.ahdb.org.uk/media/1987/action-creep-feeding.