Skaapvoerkrale

Wat bepaal winsgewendheid in die voerkraal?
- Die eerste belangrike faktor sal altyd die aankoopprys wees. As jy jou eie lammers voer, sal dit stoorlamprys teenoor slagprys wees
- Voeromsetverhouding (VOV): hoeveel kg voer ingeneem word om 1 kg groei te kry
- Uitslagpersentasie
- Gemiddelde daaglikse toename (GDT)
Dit is van kritieke belang om ’n goeie wegspring in die voerkraal te kry.
Drie belangrike faktore om in ag te neem vir ’n optimale begin:
1. ’n Goeie kwaliteit lam:- ’n Gesonde lam tussen 27 kg en 30 kg
- Ouderdom van tussen 2 en 4 maande (maksimum)
- Lammers wat kruipvoer ontvang het
- Asemhalingsiektes is die algemeenste siekte in voerkrale en lammers moet dus vroegtydig hierteen ingeënt word.
Sukses in die voerkraal begin met die regte tipe lam. ’n Gesonde jong lam is ’n lam wat goeie groeipotensiaal bied en sal ’n beter voeromsetverhouding as ’n ouer lam van dieselfde gewig hê. Siek en boepenslammers moet onder geen omstandighede in ’n voerkraal afgerond word nie.
2. Aanpassing:
- Lammers se rumens moet vir ’n hoë styselrantsoen aangepas wees
- Lammers moet verkieslik gewoond wees aan die tipe rantsoen (pille of tuismengsel)
Met navorsing en tegnologie is daar deesdae verskeie produkte om te help met die aanpassingsproses. Daar is byvoorbeeld doseermiddels wat gegee kan word voor die lammers na die voerkraal gaan. Die lammers kan ná die toediening van hierdie middels direk op die groeirantsoen gaan en geen aanpassing is nodig nie. Om lammers op hierdie manier aan te pas, gaan tyd bespaar, en in ’n voerkraal kan baie geld bespaar word as lammers vir ’n korter periode in die kraal is. As daar op tradisionele maniere aangepas word waar innames op ’n rantsoen oor ’n tydperk verhoog word, is dit belangrik dat vreetspasie voldoende moet wees (25 tot 30 cm/lam), en genoegsame hoeveelhede goeie ruvoer moet vrylik voorsien word.
3. Groepering van lammers:- Deel lammers in gewigsklasse van 3 tot 5 kg in
- Plaas 40 tot 60 lammers in ’n kamp
- Hou ramme en ooie apart
Voeromsetverhouding en rantsoen:
Met ouderdom raak ’n lam se vermoë om voer na vleis om te sit al hoe swakker, daarom moet die beste moontlike rantsoen gevoer word om hierdie periode voluit te benut. Voerkostes is ’n belangrike deel van die voerkraalsom. Ongelukkig heers daar ’n wanpersepsie dat die goedkoopste rantsoen vir die meeste wins gaan sorg. Alhoewel voerkostes in ag geneem moet word, is die VOV die belangrikste faktor vir wins en nie voerkoste nie. Goedkoper rantsoene se VOV is dikwels swakker as duurder rantsoene (weens laer kwaliteit roumateriale wat gebruik word) en gevolglik moet lammers langer in die kraal wees om op gewig te kom. Hiermee word daar egter nie aanbeveel dat die duurste rantsoen altyd gekoop moet word nie. Dit is wel raadsaam om self proewe te doen, sodat VOV en uitslagpersentasie van verskillende rantsoene vergelyk kan word. Sodoende kan die winsgewendheid in die voerkraal bepaal word. Groeistimulante en groeibevorderaars in rantsoene speel ’n belangrike rol ten opsigte van VOV en groei en is dus ’n belangrike komponent van die rantsoen
Algemene bestuursriglyne:
- Verseker dat daar altyd koel, skoon water beskikbaar is (maak drinkbakke een keer per dag skoon)
- Skaduwee is baie belangrik om optimale groei te verseker
- Voer lammers 3 tot 4 keer per dag. Dit sal ook verseker dat die rantsoen vars bly en inname stimuleer. Lammers moet altyd vrylik gevoer word
- Kruisraslammers vaar beter as suiwerraslammers
- Lammers moet nie langer as 45 tot 55 dae gevoer word nie (afhangende van hul gewig wanneer hulle in die voerkraal geplaas word).