Spysverteringsfeite

01 August 2017

Die handhawing van goeie dermgesondheid in varke is die eerste stap na die versekering van winsgewendheid met die produksie van varke. 'n Gesonde vark beteken 'n gelukkiger boer.

Meer oor die dermkanaal

Om te verstaan wat 'dermgesondheid' beteken, moet ons die dermkanaal omskryf en sy hooffunksies identifiseer. Die derm is ’n belangrike immuunorgaan, aangesien dit die grootste limfoïedmassa in  die vark se liggaam is. Daarbenewens is die maag die tuiste van miljoene mikrobes, bekend as die 'derm mikrobiota'.

Indien ons hierdie kenmerke in gedagte hou, kan ons drie belangrike funksies identifiseer:

Die vertering en absorpsie van nutriënte:

Spysvertering is die gevolg van die afbreking van voedsel wat geëet is deur ensieme en die absorpsie van voedingstowwe deur die bloed- of limf-sirkulatoriese stelsels. Dit begin in die mond en  word voortgesit in die spysverteringskanaal.

Ons kan kortliks hierna kyk:

Die mond

Die mond speel  ’n belangrike rol, nie net met betrekking tot die eet van voedsel nie, maar ook met die aanvanklike meganiese afbreekproses van die voedsel. Terwyl die tande die hoofrol speel om die voedsel in kleiner stukkies op te breek, begin die chemiese afbreek van voedsel ook in die mond deurdat dit met die speeksel meng.

Die maag

Die maag is ’n gespierde orgaan wat verantwoordelik is vir die stoor van kos. Die afbreek van voedingstowwe begin hier en dit bevorder ook die vloei van voedsel deur na die dunderm.

Die dunderm, pankreas en lewer

Die dunderm is die belangrikste plek waar voedingstofabsorpsie plaasvind en die dunderm word in drie gedeeltes verdeel. Die eerste gedeelte is die duodenum. Die duodenum is ongeveer 30 cm lank en dit  is die gedeelte van die dunderm wat met die pankreas, lewer en galblaas verbind is. Die pankreas is verantwoordelik vir die afskeiding van insulien en glukogeen en dit is dus verantwoordelik vir die glukosevlakke in die liggaam. Wanneer die voedsel die duodenum verlaat beweeg dit na die middelste gedeelte van die dunderm wat die jejunum genoem word. Hier vind ook verdere absorpsie van voedingstowwe plaas en dan beweeg die voedsel deur na die laaste gedeelte van die dunderm, die ileum.

Die dikderm

Die dikderm bestaan uit vier gedeeltes. Vanuit die ileum beweeg die voedsel, waaruit heelwat nutriënte reeds opgeneem is, na die sekum. Die sekum bestaan uit twee gedeeltes. Die eerste gedeelte het ’n ‘blinde’ einde, soos ’n doodloopstraat. Die tweede gedeelte van die sekum is aan die kolon verbind. Verteerde voedsel word deur die sekum deurgestuur na die kolon en daarvandaan na die rektum en die anus, waardeur die laaste oorblyfsels van die voedsel uitgewerp word. Die wande van die dikderm bevat epiteelselle wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die absorpsie van water. Die verteerde voedsel wat vanuit die dunderm na die dikderm aangestuur word is hoofsaaklik vloeibaar. 

1.  Die skep van ’n tuiste vir mikrobiota

Die spysverteringskanaal tussen die maag en die dikderm bied ’n tuiste aan ’n wye verskeidenheid bakterieë. Hierdie bakterieë, soos byvoorbeeld laktobacilli, wat meestal aan die einde van die dermkanaal voorkom, speel ’n noodsaaklike rol by die opname van voedingstowwe. Gesonde mikrobes word gekenmerk deur ’n goeie diversiteit (verskeidenheid), ’n goeie versperringsfunksie en ’n mikrobiese samestelling wat sterk beïnvloed word deur faktore soos nutriëntbeskikbaarheid en peristalsis.

2.  ’n Effektiewe versperringsfunksie met behulp van die mukosa

Die mukosa (slymvliese) vorm ’n versperring tussen die liggaam en die luminale omgewing. Die doel hiervan is om die effektiewe absorpsie van nutriënte te verseker, terwyl dit die absorpsie van patogene, antigene en toksiene versper.

Dit is belangrik om daarop te let dat ’n vark se maag nie 'staties' is nie en dat die enigste konstante voortdurende verandering is. Dit beteken dat die derms voortdurend verander soos wat die vark ontwikkel en groei. Daarbenewens sal die samestelling van dermflora ook verander, afhangende van die groeitoestande. Derminfeksies kan ’n belangrike oorsaak wees vir die afname van doeltreffende absorpsie en dit kan bykomende kostes tot gevolg hê vir veeartsenykundige behandeling. Daarbenewens kan swak absorpsie van kos groei negatief beïnvloed, aangesien die liggaam van die vark die nodige voedingstowwe sal gebruik om eerstens die infeksie te beveg, en dan wat oorbly vir groei aanwend.

Goeie dermgesondheid by jong varke is die sleutel tot algemene verbeterde gesondheid en prestasie en  dit lei weer tot hoër winsgewendheid. Ons weet almal dat die derms die grootste orgaan is wat immuunfunksies beïnvloed. Die derms is dus die eerste lyn van verdediging teen infeksies en moet die hoogste prioriteit geniet. As die gesondheid van die maag en derms nie optimaal is nie, sal groei negatief beïnvloed word en dit sal op sy beurt weer ’n negatiewe uitwerking op winsgewendheid hê.

Die optimalisering van dermgesondheid begin met kolostrum en melk. Dit is noodsaaklik dat elke varkie voldoende kolostrum inkry, aangesien die dermkanaal daarop staatmaak vir passiewe immuniteit. Hoe vinniger elke varkie kolostrum na die geboorte kry, hoe beter is die kans op goeie immuniteit. Deur die gesondheid van die dermwand te verbeter, verhoog ons die vermoë om voeding- stowwe beter te absorbeer.

Goeie dermgesondheid verseker 'n goeie begin aan varkies, en kan ook bydra tot:

  • Verhoogde gesonde mikroflora
  • Verminderde skadelike bakterieë
  • Verhoogde voerinname en gemiddelde daaglikse groei
  • Afname in mortaliteit
  • Verhoogde winsgewendheid.

Faktore om in ag te neem vir gesonde spysvertering:

  • Voedingsbronne
Dermgesondheid kan verbeter en onderhou word met ’n behoorlike seleksie van bestanddele wat dermontsteking voorkom, groei van voordelige bakterieë verhoog en waterverlies verminder. Die voer van hoë kwaliteit proteïene, hoogs verteerbare koolhidrate en unieke spysverteringsensieme in ’n voedingsprogram lê die grondslag vir goeie gesondheid en optimale groei.
  • Mikroflora in die derms

 Die bevordering van die groei van voordelige bakterieë soos Lactobacilica en Bifidobakterieë verminder die bevolking van skadelike bakterieë wat meeding vir voedingstowwe. Die handhawing van ’n goeie pH-vlak sal ook help om die nodige bufferkapasiteit in die maag te verlaag, asook om ’n goeie omgewing vir gunstige bakterieë te behou en om sodoende te help met die spysverteringstelsel.

  • Eptiteelverbinding

Normale epiteelselle lê dig teenmekaar en het hegte verbindings wat ’n beskermende funksie in die spysverteringskanaal verrig. Skade aan hierdie selle, deur byvoorbeeld ontsteking, kan veroorsaak dat die selle van mekaar skei wat lei tot ‘lekkende’ selverbindings en onverteerde voedsel en toksiene wat deur die wande van die spysverteringskanaal syfer.

  • Voerinname

 Navorsing het aangedui dat daar minder skade in die ingewande van gespeende varke was waar voerinname verhoog is. Hoër voerinname kan lei tot langer intestinale villi, verbeterde absorpsie van voedingstowwe en die vermindering van siekteveroorsakende bakterieë soos E. coli.

  • Medikasie

Ons weet dat die gebruik van medikasie in voer toegelaat word, maar ons verstaan ook dat die gebruik van die medikasie in die nabye toekoms streng gereguleer gaan word, indien dit nog toegelaat sou word. Daar is ’n bewese voordeel in die gebruik van sommige voedingsmedikasies om die balans van die dermflora te verbeter en groei te bevorder, maar sommige van hierdie medikasies, veral antibiotika, kan ’n negatiewe invloed op die opname van voedingstowwe hê. Raadpleeg altyd u veearts voordat u die gebruik van medikasie in voer oorweeg.

Verwysings: The pigsite, Pig progress, Animal science publications