Tree pro-aktief op in nat omstandighede

01 March 2017

Na verskeie jare van ondergemiddelde en selfs rekord droë jare het die 2016 – 2017 reënseisoen sovêr nie teleurgestel nie, met ten minste normale en selfs abnormale hoë reënval. As ʼn bedryf in die geheel kla niemand nie, nie met die droogte vars in ons geheue nie. Die nat weer bring egter probleme van sy eie wanneer dit kom by melkproduksiestelsels en is iets waaraan aandag gegee moet word.

Die effek van nat weer en modderstres is multifaktoriaal en het dus baie verskillende aspekte wat ʼn impak het op suiweldiere. Die grootste impak is sekerlik op droëmassa-inname. Diere doen minder moeite om bakke te nader vir voer weens die ekstra moeite om deur die modder te ploeter. Tydens erge reënbuie, kan voer wat nie onderdak is nie, deurweek word met water wat vreetaksie bemoeilik met die gevolg dat diere ook ʼn “uitgewaste” TGR (totale gemengde rantsoen) inneem. In hierdie situasies is diere  geneig om  te “slug feed”. In die “slug feed”-fase eet diere ongereeld en wanneer daar wel goeie inname plaasvind, is diere geneig om te ooreet. Gevolglik lei die proses dan tot verskeie probleme soos asidose, verplaaste abomasum en laminitis wat voerinname nog meer negatief beïnvloed, dus ʼn bose kringloop van omstandighede.

Buiten die verlaagde inname verhoog modder ook die onderhoudsbehoefte van die koei weens die feit dat dit meer energie verg om deur modder te beweeg. Dié verhoogde behoefte saam met die verlaagde inname kan ʼn algemene energietekort gedurende die nat periode bewerkstellig.

Tabel 1 gee ʼn goeie aanduiding van die impak wat modderdiepte op voerinname en produksie kan hê. Energietekorte wat veroorsaak word deur verlaagde voerinname is dikwels moeilik en besonder duur om reg te stel bloot met formulering en bestuur moet intree om die impak van modder op die kudde ten alle koste te bekamp.

Tabel 1: Die impak van modderdiepte op voerinname en melkproduksie

(Bron: Feeding the lactating dairy cow to express its full genetic potential. L.J Erasmus, W.A Smith, P.B Cronje)

Iets wat ook maklik misgekyk word, is dat alhoewel die omgewingstemperatuur laer mag wees, die diere gewoonlik hoër vlakke van ongemak en hittestres ervaar omdat die humiditeit in nat krale heelwat hoër is as in die omliggende omgewing en dit die temperatuurhumiditeitsindeks opstoot.

Sekondêr tot modder lê ook die effek op somatiese seltellings (SST) en die impak wat dit op produksie het. SST styg maklik in modderstresperiodes weens uiers wat met modder in kontak kom vir verlengde periodes. Die modder dien as ‘n broeiplek vir bakterieë en in reënperiodes kan daar dikwels ‘n uitbraak wees wat die SST van diere die hoogtes indryf. Somatiese seltellings gekorreleer direk met melkproduksie; dus gaan ’n verhoging in SST gewoonlik gepaard met ’n verlaging in melkproduksie soos aangedui in Tabel 2.

Tabel 2 Effek van SST op melkproduksie (Bron: Logix)

Die effek van modder op die algemene beweeglikheid van ʼn kudde moet ook nie onderskat word nie. As dit nie beheer word nie kan dit tot verskeie probleme aanleiding gee. Een van die mees direkte bydraes van swak beweeglikheid op die winsgewendheid van ʼn melkkudde het te doen met verlaagde voerinnames. Die effek van verlaagde voerinnames is reeds vroeër bespreek en swak beweeglikheid sal net die saak versleg. Swak beweeglikheid in dié omstandighede is grootliks as gevolg van diere wat makliker beserings opdoen deur te gly en te val en dan ook sagter hoewe het, omdat dit konstant nat is, wat makliker sny en blootgestel is aan die perfekte omgewing vir bakterieë.

Tabel 3 verwagte afname in inkomste as gevolg van swak beweeglikheid. (Bron Peter Robinson, UC)

Ons is reeds midde in die reënseisoen. Langtermyn voorbereiding is dalk nie nou die korttermyn oplossing nie, maar dis goed om vir opvolgende seisoene voor te berei.

Langtermyn oplossings vir nat periodes sluit in:

  • effektiewe waterafvoer met behulp van hellings, watervore en keerwalle
  • dreinering wat by die bou van krale in bereken gebring moet word
  • die bou van rushope
  • misverwydering
  • afdakke (te minste oor voerareas)

Deur van hierdie aspekte aan te spreek kan tot 90 % van probleme wat met nat kondisies gepaard gaan, redelik effektief verminder word.

In die korttermyn is daar ook krisisbestuur wat toegepas kan word deur proaktief op te tree. Dit sluit die gebruik van houtskaafsels, grond of selfs sement in slegs wanneer dit regtig nodig is in areas met hoë verkeer om loopvlakke te verstewig. Een van die mees effektiewe maniere om modderstres te bestuur is om tydelike krale te skep in ongebruikte veld of selfs lande.

Maak egter seker dat daar genoeg kripspasie is. Om modderstres te bestuur is nie maklik nie en verseker nie goedkoop nie, maar die opsie om niks te doen nie kan veel duurder wees .