Verhoogde wol- en sybokhaarproduksie - De Heus vorderingsverslag

01 April 2018

Wol- en sybokhaarproduksie: die basiese beginsels

Die beginsels van fynwol- en sybokhaarproduksie (vag) is fisiologies min of meer dieselfde, maar die voertuig (dier) verskil in groot ’n mate en die voedings- en bestuursbenadering moet anders wees.

Die basiese beginsels is egter:

  • Vagproduksie is afhanklik van die ontwikkeling van primêre- en sekondêre follikels in die vel van die dier.
  • Dit word bepaal deur genetika, geboortegewig, grootte (oppervlakte) van die vel en voeding.
  • Hierdie follikels (van die lam) begin vanaf 60 dae na bevrugting ontwikkel en bereik volwassenheid (aktivering) vanaf 35 dae voor lamtyd tot 12 weke na lamtyd.
  • As hierdie follikels nie volwasse word nie, sal al die vagproduksie van die dier lewenslank geraak word – en dit is onomkeerbaar.
  • Die verhouding tussen primêre- en sekondêre follikels (P:S) bepaal die kwaliteit van die wol. In Angoras is die gemiddelde P:S follikelverhouding 1:10 met ’n ooreenstemmende gemiddeld van 30 mikron. In Merino's is die P:S verhouding 1:20 met ’n ooreenstemmende gemiddelde van 18 - 20 mikron.

Hoe bestuur ons voeding vir verhoogde fynwol- en sybokhaarproduksie?

Fynwol- en sybokhaar bestaan hoofsaaklik uit keratien wat ’n komplekse proteïen is wat uit 20 verskillende aminosure (boublokke van proteïen) bestaan en dit bevat 2,7% - 3,4% swael. Om fynwol- en sybokhaarproduksie te verhoog maak dit sin om hierdie swaelbevattende aminosure te verskaf, maar dit is nie so eenvoudig nie.

Hoekom?

  • Die eerste beperkende faktor is DMI (droë materiaalinname): as ’n dier nie voldoende DMI het nie, sal die aanvulling van aminosure nutteloos wees. Genoeg weiding moet beskikbaar wees.
  • Die tweede belangrike stap is rumenfunksie: as die rumen gesond gehou word en behoorlik funksioneer deur deurlopend rumen degradeerbare voedingstowwe (aanvullings) te lewer, sal die meeste aminosure deur mikrobiese proteïen verskaf word. Dit is die natuur se manier om verbyvloei-proteïen te voorsien.
  • Die derde aspek waarop gekonsentreer moet word is gebalanseerde voeding. Aminosure moet aangevul word vir verhoogde produksie. Die doeltreffendheid van die aanvulling van aminosure om wolproduksie te verhoog, hang van die energiebalans van ’n dier af. Wanneer ’n dier ’n sterk positiewe energiebalans het, is die benutting van aminosure 47%, maar as ’n dier ’n energie-ewewig het, is die doeltreffendheid van die benutting van aminosure14%.

De Heus het verskeie kommersiële proewe by verskillende kliënte gedoen om vas te stel wat gedoen kan word om nie net vagproduksie te verhoog nie, maar dit ook meer winsgewend te maak.

SKAAPPROEWE

Verskeie proewe is met intervalle van ses maande elk (tussen skeertye) oor ‘n paar jaar, op skape gedoen. Ongelukkig kon geeneen van hierdie proewe voltooi word soos beplan nie as gevolg van die huidige droogte en die verskillende groepe moes na drie vier maande in elke proefperiode gekombineer word en droogtevoer gevoer word weens ‘n tekort aan weiding. Die proefperiodes waartydens proefrantsoene gevoer is, was dus verkort.

Ons kon egter steeds met die verkorte voerperiodes ’n verskil sien ten opsigte van wat ekonomies geregverdig kon word tussen die produksiegroepe, selfs deur die droogte.


ANGORAPROEWE

Die angoraproewe is oor ’n tydperk van drie jaar gedoen (en is steeds aan die gang). Tydens hierdie proewe is verskillende rantsoene verskaf, maar die hoeveelhede is volgens die droogte situasie aangepas binne elke groep diere.

Gedurende die eerste jaar het ons die verskil tussen ’n normale aanvulling (kliënt se bestaande voer), en ’n rantsoen wat fokus op rumen gesondheid en funksionaliteit  (SFOS formulasie van De Heus) getoets. Met die merkbare verbetering deur SFOS formulering het ons in die daaropvolgende twee jaar op die SFOS geformuleerde rantsoene gebou deur verskillende vlakke van aminosure en ander nutriënte te toets (SFOS+ en SFOS++).

Die resultate word opgesom in die tabel hieronder:

*Hierdie vlakke is gedurende die ernstige deel van die droogte verhoog toe weiding min raak

Tydens hierdie proewe het ons die volgende (selfs deur die droogte) gevind:

  • ’n Verhoging in sybokhaaropbrengs vanaf 0,8 kg oor ’n tydperk van 6 maande tot 1,8 kg oor ’n tydperk van 5 maande;
  • ’n Verhoging in lengte van ’n D na ’n C en
  • ’n Verhoging in gemiddelde liggaamsgewig.

Alhoewel die rantsoen met die hoogste vlakke van aminosure (SFOS ++) se produksievlakke beter presteer het, het die toename in koste daarvan nie die bykomende voordele geregverdig nie.

Opsomming

Soos met alle dinge in die lewe is ’n delikate balans tussen genetika, bestuur en voeding die sleutel tot optimale sukses. Die een kan nie sonder die ander gedoen word nie. Met dieselfde genetika en bestuur, het ons egter dramatiese toenames in die opbrengs van sybokhaar en wol gesien toe voeding aangespreek is.

Wanneer die basiese beginsels soos DMI en energie-ewewig in plek is, kan groot vordering gemaak word met behoorlike formuleringstegnieke om rumenfunksionaliteit te stimuleer en in stand te hou, met bygevoegde aminosure, minerale en spoorminerale.