Verstaan die speenvark

01 September 2016

Soos gepubliseer in PORCUS – September 2016   Die tydperk van spening en die daaraan verwante stres het 'n direkte impak op die groei van die werpsel, wat kan lei tot laer wins. Deur die verbetering van bestuur en die skenk van meer aandag aan detail, kan die na-speningsverliese verminder word en verbeterde groeikoerse verwesenlik word. 'n Korter soogtydperk sal meer gesofistikeerde behuising, voeding en bestuursvaardighede vereis om kleinvarkies optimaal te laat groei.

Spening word meestal gedurende die volgende tye gedoen:

  • op 21 dae ouderdom (3 weke)
  • op 28 dae ouderdom (4 weke)
  • Gespesialiseerde spening: geskeide vroeë spening (GVS) en medisinale vroeë spening (MVS)

Konvensionele spening (3 - 4 weke): 5 - 10 kg lewendige gewig

Teen ongeveer 28 dae ouderdom word dit aanvaar dat varkies vir hulleself kan sorg onder gemiddelde boerderytoestande. Ons moet daarvan bewus bly dat die ouderdom van spening ’n integrale deel van die teelprogram vorm en spening op ʼn vervroegde ouderdom sal die dek- en jongingsprogramme beïnvloed. Melkproduksie van die sog daal drasties in die vyfde week van laktasie, en dit is dan nie meer ekonomies winsgewend om die varkies te soog nie.

Bykomende voeding is nodig om optimale groei van die varkies in stand te hou. Op hierdie stadium behoort die varkies al droë voer te kan eet en in staat te wees om beter aan te pas by veranderende temperatuur en stres, aangesien hulle genoeg blootstelling gekry het aan kruipvoer terwyl hulle aan die sog gedrink het. 'n Hoë standaard van nasorg en higiëne moet egter nog in stand gehou word. Speningsfasiliteite moet voorberei word voordat die varkies oorgeskuif word. Die speningshuise moet vooraf na ʼn geskikte temperatuur verhit word en voer moet uitgesit word waar die varkies dit in die nuwe hokke maklik kan vind. Die verskaffing van vrystaande water is ook ʼn hulpmiddel in die proses van aanpassing by die nuwe omgewing en het 'n positiewe uitwerking op voerinname. Goeie  aanpassing 2 - 3 dae na spening is krities om optimale groei te verseker. Indien die geskikte omgewing gehandhaaf word en die produsent oor die nodige kundigheid beskik oor hoe om na die speenvarkies om te sien, kan stres gedurende die speningstydperk verminder word.

Vroeë spening: 4 - 5 kg lewendige gewig

Vanaf 2 - 3 weke ouderdom bereik speenvarkies ’n stadium wanneer hul spysverteringstelsel daaraan gewoond is om meer komplekse koolhidrate in die meer soliede diëte te hanteer. Gedurende hierdie ouderdom begin die varkies se hitteregulerende stelsel ook meer doeltreffend funksioneer en dit stel hulle in staat om aan te pas in die nuwe omgewing.

Gedurende 21 - 28 dae ouderdom, is dit nie ongewoon dat die varkies diarree ontwikkel nie, as gevolg van die verskillende immunologiese en fisiologiese veranderinge wat in die nuwe omgewing mag voorkom. Die graad van diarree sal afhang van die organismes teenwoordig, die algemene vlak van higiëne, die tipe voeding en algemene bestuur. Die implementering van gespesialiseerde fasiliteite sal aansienlik bydra tot die sukses van vroeë spening. Soos voorheen genoem: om op ’n jonger ouderdom te speen moet daar meer aandag gegee word aan die daarstelling van goeie fasiliteite vir die varkies wat hulle ’n beter kans gee op oorlewing en aanpassing en daardeur word winsgewendheid verhoog.

Gespesialiseerde spening

  • Geskeide vroeë spening

Dit is spening op 'n vroeë ouderdom, gewoonlik op jonger as 18 dae ouderdom, en verwydering van die res van die werpsel onmiddellik na spening, om sodoende sovêr as moontlik verspreiding van siektes in die hokke te beperk of ten minste te probeer verminder. Dit is 'n hoogs gesofistikeerde proses en word nie aanbeveel nie, tensy dit absoluut noodsaaklik is.

  •  Medisinale vroeë spening

Hierdie tegniek word gebruik om varke vry te hou van endemiese patogene in die werpsel. Sôe word gedoseer met hoë vlakke van antibiotika wanneer hulle die jongingshuise betree totdat hulle werpsels gespeen word. Die varkies word op vyf dae ouderdom gespeen en word in ’n geïsoleerde vroeë-speningseenheid geplaas. Dit is 'n gespesialiseerde fasiliteit en 'n mens kan dit 'n neonatale waakeenheid vir varkies noem. Varkies word vanaf geboorte tot ongeveer 10 dae ouderdom gedoseer met middels soortgelyk aan die wat aan die sôe gegee word. Hierdie soort spening is ook hoogs gespesialiseerd en word nie aanbeveel tensy dit absoluut noodsaaklik is nie.

Komplikasies wat verband hou met spening

Probleme kan verskeie vorms aanneem:

  • die ontwikkeling van stresvolle gedrag, bv. kannibalisme
  • slegte toiletgewoontes
  • vertraagde groei
  • diarree
  • verswakte immuunstelsels
  • lae voer- en waterinname

'n Kardinale faktor is die hoeveelheid kruipvoer wat geëet word voor spening. Afgesien daarvan om die varkies gewoond te maak aan die eet van droë voer, help die inname van kruipvoer ook om die werking en aanpassing van hulle spysverteringstelsels te versnel.

Die nuwe omgewing

Varkies verseker hul ‘rangorde’ kort na geboorte. Gedurende die speningstydperk word die varkies dikwels nie in ideale omgewings geplaas nie. Werpsels word dikwels hergroepeer volgens grootte en geslag en verhuis na nuwe en vreemde omgewings waar hulle die volgende paar dae spandeer om by 'n nuwe "rangorde" en nuwe omgewing aan te pas. Hierdie aanpassing het ’n negatiewe effek op voer- en waterinname wat weer stres plaas op die algemene ontwikkeling van die varkies in hierdie brose stadium in hul ontwikkeling. Die belangrikste dinge wat die varkie moet doen is om te leer waar om water en kos te vind. Daar is 'n aantal metodes of maniere om die varkies te help om hierdie belangrike noodsaaklikhede te vind en stres te help verminder.

Bronne van voedsel

Gedurende spening moet die varkies aanpas by 'n vaste dieet in teenstelling met die melkdieet waaraan hulle by die sog gewoond was. Selfs al het die varkies kruipvoer geëet, het hulle steeds ‘n keuse gehad tussen kruipvoer en melk en dit kan ’n paar dae neem vir hul verteringsensieme om aan te pas. Vandaar die belangrikheid van die verskaffing van 'n kruipvoer terwyl hulle nog aan die sog drink om sodoende droëvoerinname aan te moedig en na-speningsaanpassing te verbeter. Dit plaas aanvanklik ’n las op die spysverteringstelsel, en die uitwerking daarvan sal afhang van die kwaliteit van die voer en die omgewing waaraan die speenvarkies blootgestel word. Indien die voor-spening voerverbruik laag is en die na-spening voer voorsiening swak bestuur word, is daar die risiko van 'n antigeniese reaksie op die voer.

Die ingewande en ensieme

Die spysverteringstelsel van die varkie is ontwikkel om 'n melk-gebaseerde dieet te hanteer as die eerste bron van voer. Soos die varkies volwasse word ontwikkel die ensieme in hulle spysverteringstelsels ook. Daarom is varkies wat op 28 dae ouderdom gespeen is meer in staat om nie-melk koolhidrate en proteïene te verteer as varkies wat op bv. 14 dae ouderdom gespeen is.  Hoe vroeër die varkies gespeen word hoe meer moet die alternatiewe kruipvoer die samestelling van die sog se melk naboots. Die 20% vastestowwe in die sog se melk bestaan rofweg uit 8% vet, 6% proteïene, 5% laktose, 1% minerale en ander komponente en is heeltemal verteerbaar. In die lig hiervan het diëte vir die vroeg gespeende varkies (10 to16 dae) die meeste sukses wanneer hulle beduidende hoeveelhede (30 tot 40%) van die melkvastestowwe (afgeroomde melk, volroommelk, karringmelk, weipoeier en / of laktose) en verteerbare vetbronne bevat. Alternatiewe energiebronne soos stysel en suikers kan ook gebruik word, maar die sleutel is om dit in 'n maklik-verteerbare vorm en binne die ensiemvermoë van die varkies te verskaf sodat hulle dit suksesvol kan verteer en optimaal gebruik kan maak van al die voedingstowwe.

Die maag se pH balans

Die graad van suurheid wissel deur die kleinvarkie se spysverteringskanaal. Die pH van die maag is geneig om baie suur (algemeen pH 2 - 3) wees. Hierdie lae pH is te danke aan HCL suurafskeiding wat nodig is vir die funksionering van proteïenverterende ensieme, maar nog belangriker sovêr dit die jong varkies betref; dit voorkom die oormatige vermenigvuldiging van ingeneemde bakterieë.

Tydens voeding styg die pH volgens die pH van die kos soos die suur in die maag verdun. Die maag skei HCL suur af en die pH val weer na 'n pH van 2 - 3. Wanneer voer in groot hoeveelhede en met ongereelde tussenposes geëet word (wat dikwels die geval is tydens spening), neig die maag pH om hoër te bly vir langer periodes. Dit laat bakterieë vinnig vermeerder en die bakterieë vloei dan deur die maag na die ingewande. Op sy beurt lei dit weer tot 'n verhoogde vlak van bakterieë, en as onverteerde proteïen beskikbaar is, kan E.Coli floreer en kan dit verskeie komplikasies soos diarree, oedeem en verhoogde na-speningsmortaliteit veroorsaak. Die gemiddelde varkie moet 18 tot 22 maaltye per dag eet. Dus kleiner maaltye meer dikwels.

Immunologiese stelsel

Varkies word met geen beskermende immuniteit gebore nie en maak staat op kolostrum vanaf die sog vir die oordrag van passiewe immuniteit. Passiewe immuniteit duur 10 - 14 dae, maar die varkies se eie immuunstelsel ontwikkel eers vanaf 21 - 28 dae ouderdom. Ons kan dus aanvaar dat varkies wat op 14 – 28 dae gespeen is 'n hoër risiko is omdat hul vermoë om 'n siekte te weerstaan op sy laagste is. Gelukkig is daar doeltreffende entstowwe en inentingsprogramme beskikbaar vir voor- en na-spening. Bespreek die implimentering van hierdie programme met jou veearts.

Identifiseer ‘risiko’-varke deur te kyk na die volgende:

  • geestelike status - observasie ten opsigte van opgewonde / depressief
  • kondisie - vet of normaal vs dun
  • abdominale vorm - opgeblaas of maer
  • vel - glad vs wollerig
  • eetlus – eet by die voerbak vs staties en in ‘n bondel
  • bewys van urinering en / of ontlasting
  • tekens van dehidrasie - versonke oë / droë neus

Samevatting

Spening is die mees stresvolste tydperk in die lewe van 'n potensiële spekvark (“baconer”). Die varkies het lae immuniteit nadat hulle van die sog en die res van die werpsel verwyder is en saam met dieselfde grootte en geslag in ’n vreemde omgewing geplaas is, terwyl hulle op ’n nuwe manier hul kos en water moet inneem in ’n vreemde omgewing. Dit alles moet gebeur in die eerste 2 - 3 dae na spening om die minimum afname in groei te verseker. Behoorlike voorbereiding verminder swak prestasie. Beplan om die speenhokke vooraf korrek voor te berei om die nuwe aankomelinge te verwelkom. Maak dit so gemaklik moontlik vir hulle om vinnig aan te pas en sodoende winsgewendheid te verbeter. Laat 'n geskoolde, toegewyde persoon toe om in die speningshokke toesig te hou en tyd te spandeer met elke werpsel. Moenie net probleme bestuur nie, maar gee van die begin af aandag aan die kleinste detail.

Verwysings: Graeme Taylor en Greg Roese, Veebeamptes: Varke; Bedryfsontwikkeling, Tamworth - Primefact is een van vyf artikels wat ‘n oorsig gee oor basiese varkboerdery, inligting i.v.m. bere, jong sôe en speenvarkies; Die Vark Webwerf; SAVPO Artikel Argief.