Voeding van die moderne droë sog

01 May 2017

Veranderinge in wetgewing in die nabye toekoms sal 'n impak hê op die manier waarop ons tans die droë sog sien. Die bedryf is besig om na meer sogvriendelike behuising te beweeg en varkprodusente sal sôe in groepshuise eerder as in individuele hokke moet huisves. Dit sal die normale manier van voer en bestuur beïnvloed. As ons 'n stap terug neem en kyk na hoe sôe normaalweg optree, sal ons vind dat sôe eintlik baie sosiale diere is. Om meer doeltreffend en meer winsgewend te boer is menslike ingryping noodsaaklik. Die ander kant van die munt is om seker te maak dat ons verstaan wat die sog tydens die verskillende stadiums van die dragtigheid benodig.

Groepsbehuising van dragtige sôe

Groepbehuising van sôe is sedert 2013 in Europa verpligtend en sedertdien is dit ook wyd ondersteun in ander dele van die wêreld soos die VSA, Kanada, Nieu-Seeland en Australië. Hierdie oorgang na groepsbehuising is egter nie sonder uitdagings en onsekerhede vir die produsent nie. Die proses van omskakeling na groepsbehuising was stadig, omdat die boere óf huiwerig was om te belê in nuwe stelsels wat meer ruimte en bykomende koste vereis óf nie vertroue gehad het om oor te skakel na groepbehuising nie. In sommige gevalle, waar daar geen deurlopende herbelegging in die operasie was nie, het die oorgangsproses 'n baie duur oefening geword en dit het die lewensvatbaarheid van die operasie bedreig. Die vervanging of omskakeling van huise met minder ruimteverbruikende strukture kan die behoefte om heeltemal nuwe fasiliteite vir groepbehuising te bou verminder.

Produsente staar nuwe uitdagings in die gesig ten opsigte van die bestuur van groepsbehuising. Sommige van hierdie uitdagings is die hantering van konflik tussen sôe, meestal verwant aan voertyd en die meng en groepering van sôe in die betrokke groepe. Die frekwensie van konfrontasies binne die groep, sowel as die tydsberekening van die groepering, kan vrugbaarheid negatief beïnvloed asook vroeë embrio ontwikkeling en 'n verhoogde tempo van herhaalde dekking na 'n langdurige oestrus tot oestrus-interval belemmer. Dus moet behuising en bestuur versigtig oorweeg word om hierdie risiko’s te verminder. Behuisingsstelsels moet so ontwerp word dat dit die sôe toelaat om behoorlike sosiale gedrag te kan toon en voldoende ruimte voorsien om uit konfrontasiesituasies te kan ontsnap. Een van die grootste uitdagings is om te verseker dat alle sôe sonder steurnis kan eet.

Studies dui daarop dat sôe voorsien moet word
van 2,5 - 3,5 m2 per sog ten einde
'n redelik hoë geboortesyfer in die algemeen te kan bereik.

Daarbenewens help die dieetsamestelling en die verskaffing van 'n hok waarheen ontsnap kan word om aggressiewe gedrag te beperk. Kleiner groepe kan natuurliker wees vir sôe en kan ook makliker wees om te bestuur. Groter, dinamiese groepe van tot 300 sôe kan bevredigende resultate lewer met betrekking tot vrugbaarheid, as daar genoeg ruimte in die groepe is en as hulle goed bestuur word.

Stadiums van dragtigheid

Wanneer ons voedingsbestuur oorweeg, moet ons die verskillende stadiums van die dragtigheid en daarmee saam die verskillende behoeftes in terme van voeding identifiseer.

Drie fases kan geïdentifiseer word:

  1. Herstelfase  (Eerste Trimester: 30 - 40 dae)
  2. Mid-dragtigheid  (Tweede Trimester: dag 30 - 40 tot 85)
  3. Laat-dragtigheid  (Derde Trimester: dag 85 tot speen)

Herstelfase (Eerste Trimester 30 - 40 Dae)

In hierdie fase sal die behoeftes van herstel afhang van die verliese tydens laktasie. Dit is waar die neem van rugvet diktes (P2) 'n handige hulpmiddel is om die manier waarop ons die voeding van die sôe benader, te beheer (Sien foto 1).


Foto 1: P2-meting word geneem

As 'n bestuurder moet jy sekere teikens stel met betrekking tot P2-metings of liggaamstoestand-tellings wat verband hou met die tipe of ras op jou plaas. Hierdie teikens sal beskikbaar wees by u genetiese maatskappy. U moet weet waar u is, waar u moet wees en weet waarheen u op pad is (Skets 1).




Skets 1. Optimale toestand verwys in die algemeen na no. 3, maar hang af van wat jou genetiese maatskappy benodig.

Dit word normaalweg aanvaar dat ons in die eerste trimester moet toelaat dat die sog weer momentum kry om die korrekte liggaamskondisie te bereik in die aanloop tot dragtigheid. In Suid-Afrika het ons steeds die voordeel om die sôe individueel te voer totdat hulle gedek word om in 28 dae na dekking dragtig te wees, waarna hulle in groepe gehuisves sal word. Dit beteken dat die bepaling van die voedingskurwes gebaseer moet wees op hul toestand met speentyd en die gewenste toestand tydens dragtigheid. Gebruik hierdie geleentheid om die sog te voer tot jou voordeel.

Sommige bewyse dui daarop dat die mees kwesbare tydperk gedurende 2 - 3 weke na dekking is, wanneer inplanting en die vestiging van swangerskap plaasvind. Gedurende hierdie tyd moet die sôe so min as moontlik aan stresvolle situasies blootgestel word ten einde die verlies van embrio's en daaropvolgende swangerskap te verminder. Dit is ook belangrik om te besef dat wanneer jy sôe na groepbehuising skuif hierdie aspek noodsaaklik is.

Mid-dragtigheid (Tweede Trimester 30 - 40 tot 85)

Gedurende die aanloop tot geboorte is hierdie die fase van dragtigheid wanneer die sôe in groepe bymekaar geplaas word. Bestuur is belangrik wanneer die sôe geklassifiseer word. Evalueer hul liggaamskondisie en probeer om sovêr moontlik die sôe dienooreenkomstig te groepeer. Verder word die ontwikkeling van die plasenta in die tweede trimester gefinaliseer. Die plasenta is 'n belangrike orgaan en is verantwoordelik vir die vervoer van voedingstowwe van die sog na haar fetusse en speel 'n hormonale rol in die veranderinge wat tydens dragtigheid plaasvind. Verlaagde plasentale ontwikkeling sal dus die groei van fetusse verminder en uiteindelik hul geboortegewig beïnvloed en dit kan inmeng met die dragtigheid.

Die voerkurwes sal afhang van die samestelling van die dieet, asook die digtheid, hoeveelheid en tipe vesel wat gevoer word. Dit is belangrik om kennis te neem van die manier waarop die sôe op voeding reageer sowel as om bewus te wees van hul liggaamskondisie. Dit is noodsaaklik om te verseker dat die sôe gedurende hierdie stadium nie oorvet raak nie. Omdat hulle in groepe is, sal dit 'n uitdagende taak wees om steeds individuele liggaamskondisies te probeer regstel, maar dit is afhanklik van die behuisingsstelsel . Wees versigtig vir sôe wat geneig is om aggressief te eet en bestuur hulle dienooreenkomstig. Wees op die uitkyk vir die sôe wat geboelie word en maak seker dat hulle genoeg voer kry.

Laat-dragtigheid (Derde Trimester 85 tot speen)

Teen die einde van dragtigheid, dit is 3 - 4 weke (dag 85 en later) voordat die werpsel gebore word, word fetale groei versnel en dit plaas groter fisiologiese en nutriënte-eise op die sog. Die derde trimester hou verband met ongeveer 70% van die fetale groei. Fetale ontwikkeling word 'n prioriteit en die sog kry basies wat oorgebly in terme van voedingstowwe.

Die ontwikkeling van die werpsel is egter grootliks afhanklik van proteïen en nie soveel van energie gedurende hierdie tydperk nie. Daarbenewens word uierontwikkeling ook versnel, wat ook proteïenbehoeftes vergroot. Fasevoeding word gebruik om aan die voedingsbehoeftes in die speenhuis en die groeiende varke te voldoen, maar droë soghuise is nie ontwerp om verskillende  diëte te voorsien nie. ‘n Moontlike oplossing om die nodige voedingstowwe aan die sog te voorsien is bloot om die sôe se voerrantsoen te verhoog of te vermeerder, maar is dit so eenvoudig?

As ons saamstem dat die ontwikkeling van die werpsel prioriteit is en dat die meeste van die voedingstowwe vir hulle gereserveer word, wat gebeur met die sog? Sy sal waarskynlik van haar eie liggaamsreserwes gebruik, wat 'n probleem kan veroorsaak as die reserwes tydens laktasie te laag is.

'n Oplossing kan wees om 'n ander voer aan die einde van die dragtigheidstydperk te voed. Die voer moet dan genoeg proteïene verskaf vir die groei van die varkies, die algemene toestand van die dragtige sog en dit moet onnodige liggaamsreservering van die sog voorkom. Daar is egter in sommige gevalle bewys dat 'n sog wat in optimale toestand is nie noodwendig ekstra voer teen die einde van die derde trimester benodig nie. Dit verminder die kanse van onnodige voerinname na spening. Daarom val die klem eerder daarop om die liggaamskondisie tydens dragtigheid te verbeter.

Opsomming

Wanneer ons beplan om die sôe tydens dragtigheid te voer, tesame met die uitdagings van groepsbehuising, speel bestuur 'n deurslaggewende rol om die potensiële behoeftes van die sôe te leer ken, asook 'n oog te hou op hoe hulle reageer op die aanpassings wat verband hou met die dieet. Om dit te kan doen, is 'n algemene reël om die P2-metings te neem wanneer hulle op hitte kom, met speentyd en weer na 5 weke van dragtigheid. Die doelwit is om die P2-metings te handhaaf of te verbeter teen 5 weke dragtigheid tot 70 - 80% in vergelyking met die sog se metings met die aanvang van dragtigheid. Wanneer ons na diëte en die samestelling van diëte kyk, is dit belangrik om te let op nutriëntinname per dag gedurende die verskillende stadiums van dragtigheid.

Verwysings: Modern Pig Husbandry - Dr Lia Hoving; Peltoniemi et al. Porcine Health Management (2016) 2:15; Livestock Science 125 (2009) 1-14; The Pig Site.

 

References: Modern Pig Husbandry – Dr Lia Hoving; Peltoniemi et al. Porcine Health Management (2016) 2:15; Livestock Science 125 (2009) 1–14; The Pig Site.