Voeding vir verhoogde wolproduksie

01 September 2018

Wolopbrengs word bepaal deur die veloppervlakte van die dier asook die hoeveelheid follikels wat daarin ontwikkel. Die maksimum hoeveelheid wolfollikels wat ’n lam kan ontwikkel word geneties bepaal, maar die persentasie van die follikels wat tot wolproduksie lei (volwassewording), word deur voeding bepaal. Skape se voedingsbehoeftes varieer tussen verskillende produksiestadia. Sekondêre follikels (wat fynwolproduksie bepaal) ontwikkel in die derde trimester van dragtigheid. Die fetus se voedingsbehoeftes is dan die hoogste. Dit is ook die tyd wanneer die ooi se rumenkapasiteit die kleinste is, omdat die fetus dan reeds groot is.

Dit is uiters belangrik om in hierdie stadium die regte kwaliteit en kwantiteit voer aan die ooi te voer om sodoende die lam se potensiaal om wol te produseer te verhoog. Die effek wat voeding op die lam se leeftyd en wolproduksie het is permanent. Lammers van ooie wat voedingstekorte tydens dragtigheid gehad het se wol sal ’n verhoogde veseldikte en verlaagde vagmassa toon. Beide hierdie eienskappe het ’n negatiewe invloed op die wolprys.

Voeding van die regte kwantiteit en kwaliteit is krities vir wolgroei

Die mees algemene voedingstekort is ’n energietekort. Saam met verlaagde konsepsies en lae melkproduksie word wolgroei ook tydens energietekorte vertraag. Die vagmassa, stapellengte en veseldikte van wol neem af. Soms neem veseldikte so drasties af dat daar ’n breek in die vesel vorm. ’n Verhoogde energie-inname, sonder dat te lae proteienpeile gevoer word, het ’n direkte positiewe effek op wolgroei (Doney, 1983). Verhoogde wolgroei is liniêr verwant aan verhoogde voerinname (Ferguson, 1959.)

Dit is duidelik dat wolgroei tot ’n groot mate ’n funksie van voerinname is, maar om die ware nutriëntbehoeftes vir wolgroei te verstaan, is baie meer kompleks as dit. Wanneer proteïene inert (deurvloei-proteïene) deur die rumen na die laer spysverteringskanaal vloei, sien ons ’n definitiewe verandering in wolgroei (Kempton, 1978). Die mate waartoe ’n dier egter die proteïne kan benut word bepaal deur die dier se energiestatus. Om wolgroei te manipuleer moet ons die verhouding tussen energie en proteïene wat in die laer spysverteringskanaal opgeneem kan word, verstaan en manipuleer.

Deur bloot net ru-proteïen te verhoog gaan waarskynlik nie ’n effek op wolgroei hê nie, omdat die proteïen in die voer nie noodwendig die abomasum in dieselfde vorm bereik nie. Wol bestaan oorwegend uit keratien wat ’n komplekse proteïen is en wat bestaan uit 20 verskillende swaelbevattende aminosure. Die bekendste hiervan is lisien, metionien, sistien en  biotien. Aanvullings hiermee is egter duur, en daar moet gekyk word of die ekstra wolgroei die koste regverdig. Dit wil voorkom of proteïenaanvulling deur ureum nie wolgroei bevoordeel nie (Peirce et al., 1955).

Die belangrikheid van swael

Die belangrikste mineraal in wolproduksie is swael (S). Keratien (die hoofkomponent van wol) se swaelinhoud wissel van 2,7 tot 5,4%. Die swael kom hoofsaaklik voor in sistien, maar ook in kleiner hoeveelhede in sisteïen en metionien (McGuirk, 1983). Ander minerale soos koper (Cu) speel ’n groot rol in wolkwaliteit. Sink (Zn) en selenium (Se) bevorder ook wolgroei.

Dit is duidelik dat voeding vir verhoogde wolgroei nie ’n maklike taak is nie. Die regte hoeveelheid en verhouding energie, swaelbevattende aminosure en minerale moet op die regte produksiestadium aan wolskape gevoer word om verhoogde wolgroei te verkry. Die huidige hoë wolpryse maak dit egter die moeite werd om in voeding vir wolproduksie te belê. In die meeste gevalle gaan die marges van vleisproduksie ook op wanneer vir beter wolproduksie gevoer word omdat bevrugtingsyfer lei meerlinge en verbeterde groei.

De Heus is al vir ’n paar jaar besig met praktykgerigte navorsing om die beste moontlike ekonomiese aanvulling vir wolgroei te bepaal. In die proses is baie goeie resultate behaal wat gelei het tot die ontwikkeling van die produk RumiLick® Fleece Booster.  Hierdie produk is in die proses van registrasie.