Voer vir winsgewendheid

01 April 2017

Soos gepubliseer in PORCUS - Maart 2017  As produsente moet ons die optimale inname van 'n optimale dieet aan die korrekte gewig vark voorsien. Varke in die vroeë afrondingsfase bevind hulle in  onvoorspelbare tyd van groei. In hierdie stadium is dit van kardinale belang om 'n positiewe invloed te hê om so die wins per vierkante meter te maksimaliseer of ten minste te manipuleer. Die doel moet wees om die hoeveelheid variasie te beperk en meer eenvormigheid te verkry, hoewel variasie 'n onvermydelike deel van produksie uitmaak.

Optimale dieet vir die korrekte gewig

Die tipe dieet moet die gewig van die vark komplimenteer, terwyl in gedagte moet gehou word dat die genetiese potensiaal ontgin moet word om meer doeltreffend gebruik te maak van die korrekte dieet. In hierdie onvoorspelbare stadium van groei moet ons kyk na sekere veranderlikes wat ons kan gebruik om ons doel te bereik, dit is maksimum kg/m². In baie gevalle kan uitstekende gehalte voer nie vergoed vir swak genetika, stadige groei of te oorpopulasie nie. Daar is 'n baie fyn lyn tussen biologiese prestasie teenoor winsgewendheid. Dit is nie winsgewend om 'n vliegtuig op normale loodvrye petrol te vlieg nie en ook nie om stralerbrandstof in ʼn mini te gebruik nie.

Die omgewing

Die omgewing is waarskynlik die grootste veranderlike en dit verskil van plaas tot plaas. Oop behuising teenoor byvoorbeeld omgewingsbeheerde behuising teenoor semi omgewingsbeheerde behuising, verskillende voerders, die digtheid van diere per oppervlak beskikbaar, die lys gaan aan. Deur die beperkinge van jou opset te verstaan kan jy beplan om te kompenseer of verbeteringe aan te bring. As jy weet dat jou hokke effens koeler is as wat dit moet wees, pas dan die voer aan om te kompenseer vir die moontlike verlies van energie van die diere om te probeer om warm te bly. Dieselfde geld as jy weet dat die gemiddelde temperature in die hokke te hoog is. Dit sal beslis ‘n nadelige invloed op voerinname en gevolglik op groei hê. Kompenseer miskien met 'n effense digter rantsoen om seker te maak dat elke mondvol voer wat die diere eet sal help om hul beste potensiaal te bereik. Neem kennis van wat jou genetiese maatskappy aanbeveel rakende optimale omgewingsteikens en probeer om sover moontlik ’n ideale omgewing te skep waarin diere optimaal kan presteer.

Tyd en voeromsetverhouding (VOV)

Ons almal poog om die swaarste dier in die kortste moontlike tyd te produseer. Om  dit te kan bereik verhoog insetkoste. In die algemeen sal vinniger groei 'n positiewe impak op VOV hê  asook op voerkoste per kg lewende gewig. Hou in gedagte dat die huidige genetika meer groeidoeltreffende varke verseker. Dit kom neer op verbeterde groei, saam met die vermoë om hoër digtheid rantsoene optimaal te benut en nie noodwendig in te boet op gradering nie. Dit help weer met die gemeenskaplike doel om maksimale kilogramme per vierkante meter te produseer. Wees bedag daarop dat sommige genotipes wat vinniger groei verseker tot vetter varke kan lei.

Dit kan lei tot twee negatiewe gevolge:
  • 'n Hoër VOV wat hoër insetkoste tot gevolg het
  • Verliese in die prys per kilogram dooie gewig indien ’n groot aantal varke buite die aanvaarbare graad van die kontrak val

VOV kan 'n nuttige metode wees om die prestasie van die kudde te bepaal. Dit gee jou 'n aanduiding van hoeveel kilogram voer gebruik word om elke kilogram van lewende gewigstoename te produseer. Om ’n korrekte VOV te bewerkstellig kan ’n groot uitdaging wees. In die meeste gevalle is dit meer akkuraat as dit oor 'n langer periode bereken word. ’n Aaneenlopende gemiddeld oor drie maande kan as ’n goeie aanduiding dien van hoe die diere presteer.

Die VOV vir die verskillende stadiums kan geskat word met behulp van die volgende vergelyking:
Tonne voer oor 3 maande gelewer × 1 000
Aantal varke verkoop of oorgedra oor 3 maande × (gewig kg uit - gewig kg in)

Byvoorbeeld:

             672 ton voer × 1 000  =  2,70
               3 770 varke × (101 kg - 35 kg)
Voerinname en waterverbruik

Met voerinname en waterverbruik moet daar gestreef word na die optimale rantsoen vir die spesifieke gewigskategorie en die water moet koel en van goeie gehalte wees. Dit klink maklik, maar dit is een van die grootste uitdagings in die daaglikse bestuur. Hou in gedagte dat ’n vark min of meer 3% van sy liggaamsgewig in voer sal eet. Daag jouself uit om goeie gehalte voer in 'n skoon, droë voerder, met  goeie gehalte skoon drinkwater ten alle tye voorsien. Raak vertroud met die resultate van die spesifieke genetika wat jy op jou plaas het. Doen gereelde metings en vergelykings  en streef daarna om optimale teikens te bereik.

Die verskaffing van water en voer loop hand aan hand. Indien enige een beperk word of van swakker gehalte is, sal dit 'n direkte invloed op die prestasie van die diere hê. Wees versigtig wanneer elektroliete, sitroensuur, antibiotika of ander voedingstowwe by die water gevoeg word. Dit kan inname beperk as gevolg van die verandering van reuk of smaak van die water. Dieselfde geld vir voerbymiddels of medikasie in die voer. As varke nie water drink nie, sal hulle ook nie eet nie en groei sal beïnvloed word. Die ontwikkeling van die korrekte rantsoen is afhanklik van baie faktore soos genetika, omgewing, voerinname en karkaseienskappe. Hierdie is alles waardevolle komponente om te  verstaan van wat nodig is om 'n optimale voedingsprogram te formuleer.

Hitte inkrement

Hitte inkrement moet in ag geneem word wanneer spesifieke rantsoene saamgestel word. Hitte inkrement verwys na die energie in hitte wat vrygestel word tydens die verteringsproses van 'n bestanddeel. Diëte met ’n laer hitte inkrement laat varke koeler voel. Hoë-vesel bestanddele het 'n hoër hitte inkrement en dus gee dit meer hitte af tydens vertering. Voedingstof-digte of hoë digtheidsdiëte help om die vrystelling van hitte tydens vertering te verminder. Dit verhoog effektief die verdraagsaamheid van hitte in die vark en bevorder voerinname.

Een aspek van voeding wat baie aandag ontvang is dermgesondheid. As ons nie 'n  optimale omgewing vir gesonde ingewande bevorder en in stand hou nie, is al die tyd en moeite wat gedoen word met formulasies vermors. Wees versigtig met watter bymiddels of antibiotika in die voer gebruik word, aangesien dit die doel wat beoog word negatief kan beïnvloed. Die variasie in die grootte van afrondingsvarke kan ook aangespreek word deur die gebruik van voer-graad antibiotika.

Die gebruik van antibiotika in 'n terapeutiese of groei-bevorderingskapasiteit is 'n wettige manier om variasie te beheer, maar kan dalk nie beskikbaar wees om te gebruik in die toekoms nie weens nuwe wetgewing. Raadpleeg altyd jou veearts oor die gebruik van antibiotika en ander AGP’s tesame met die riglyne van jou plaaslike gehalteversekeringsprogram.

Verwysings: Die Vark webwerf, SAVPO Artikel Argief, Reed Leiting, DVM Worthington Veterinary Clinic, Worthington, Minn 15 October 2006.