Watter lekke om tydens die groei-seisoen te gebruik

01 November 2014

Soos gepubliseeer in Veeplaas - November 2014  Die antwoord hierop gaan waarskynlik vir elke produsent verskil, maar die kern van die saak is die beginsel van lekaanvulling en dit is nie net om tekorte aan te vul nie, maar om die rumen te stimuleer om maksimale gebruik uit die beskikbare weidings te benut. Hierdie effek van rumenstimulering is selfs groter op goeie kwaliteit weiding as met lae kwaliteit ruvoer. Dit maak dus sin om die goeie kwaliteit weiding nog beter te benut (teen ’n laer koste) en sodoende die diere in ’n beter kondisie te kry en te hou, sodat ons koste in die daaropvolgende droë seisoen, kan beperk.

Sekondêr tot rumenstimulering is die aanvulling van tekorte, aangesien die rumenmikrobepopulasie tussen 60 tot 90% van die dier se proteïenbehoeftes kan voorsien, mits dit reg bestuur word.

Beeste

Die belangrikste nutriënt wat aan beeste tydens die groeiseisoen aangevul moet word, is fosfaat. ʼn Volwasse lakterende koei moet met minstens 2,1 kg fosfaat (P) per dier per jaar aangevul word, waarvan ons beoog om die grootste hoeveelheid in die groeiseisoen te voorsien, aangesien die dier dan ’n positiewe groeireaksie daarop toon. Die probleem is egter dat ʼn gewone P12 en soutmengsel slegs 60 g per kg fosfaat gee en teen ʼn  inname van 100g per dag (as ons dit behaal), word die dier slegs aangevul met 6 g per dag. Oor 150 dae, is dit 0,9 kg per dier gedurende die somer. Die balans moet dan deur die droë seisoen aangevul word teen ’n baie hoë koste (6 g fosfor per dier per dag), wanneer dit nie so ’n positiewe effek op die toename in liggaamskondisie sal teweegbring nie.

RumiLick Rainfos P9

De Heus se antwoord vir beeste is RumiLick Rainfos P9 (V24939) wat ’n klaargemengde fosfaatlek is, wat 90 g per kg fosfaat bevat en aan die dier in die groeiseisoen aangevul word teen 150 g inname wat 13,5 g fosfaat per dag voorsien – wat baie haalbaar is. Die meeste van die dier se fosfaatbehoefte word dus in die groeiseisoen voorsien, wanneer daar ’n groter respons in terme van gewigstoename is, terwyl ons slegs genoeg fosfaat vir die nodige metaboliese prosesse deur die winter hoef te voorsien. Die produk bevat ook genoegsame ander nutriënte om die rumen te stimuleer, asook spoorminerale, en dit is boonop reënbestand.

RumiLick Accelerator

Vir jong groeiende diere, is die behoefte heelwat anders. Verse en bulkalwers moet nog groei en ons doelwit sal wees om ’n gewig van 70% van volwasse koeimassa teen dektyd te bereik. Om dit te behaal is moontlik deur die gebruik van RumiLick Rainfos P9 maar nie waarskynlik nie. By jong groeiende diere gebruik ons dan RumiLick Accelerator (V24940), teen ad lib innames. Ons verwag innames van 1,0 – 1,8 kg per dier per dag en die diere toon ook groeikoerse van tussen 1,2 tot 1,7 kg per dag afhangende van die gewig, ras en weiding. Met RumiLick Accelerator is dit moontlik om ‘n 150 tot 200 kg massatoename oor ’n groeiseisoen by jong diere te behaal. 

In beide jong en volwasse diere is dit baie belangrik om die groei wat tydens die somermaande behaal is te “beskerm” en nie te laat te begin met winter- of produksie-lekke in die daaropvolgende herfs nie. Ons kan baie gemaklik 50 kg massatoename op koeie meet tydens die groeiseisoen, maar ons kan al daardie toename verloor indien ons te lank wag voor ons met addisionele proteïenlekke in die herfs begin.

Dragtige ooie en jong lammers

RumiLick Pro 15

Skape is glad nie so afhanklik van fosfaataanvulling soos wat beeste is nie omdat hulle behoeftes aan fosfaat heelwat laer is en hulle baie beter selekteer. In ’n 12 maande-lamstelsel sal die meeste ooie naby speen wees teen somertyd en sal ’n rumenstimulerende onderhoudslek met baie spoorminerale voldoende wees. Hier bied De Heus RumiLick Pro 15 (V24938) aan. RumiLick Pro15 is ʼn lae inname-proteïen-, energie-, spoormineraalaanvulling wat ideaal is vir droë skape op goeie kwaliteit weiding.

RumiLick Ewe Booster

Jong groeiende ooitjies en ramme (net na speen) word ook met RumiLick Accelerator aangevul teen 250 tot 350 g per dag op goeie weiding. Lammers kan selfs op RumiLick Accelerator baie koste-effektief afgerond word vanaf weidings.
Ooie in ’n intensiewe stelsel sal waarskynlik besig wees met lam, of lakteer of in stoom-opfase wees voor dektyd waar ons dan RumiLick Ewe Booster (V24947) volgens die diere se behoeftes aanbeveel.


‘n Slim belegger belê in aandele wanneer dit groei. ‘n Slim boer sal nie die geleentheid laat verbygaan om goeie groei en kondisie teen ʼn lae koste in sy diere te belê nie.