Toptelerwenner vir 2016 - Pleasant View Dohne Merinostoetery

22 April 2017
-
2 minutes

Die Pleasant View Stoetery van Clark Rattray is vanjaar die wenner in die Dohne Merino Toptelerskompetisie wat deur die Dohne Merinotelersvereniging aangebied is. Vir hierdie kompetisie word nie slegs die vee in die stoetery beoordeel nie, maar die rekordhouding van die boer en die boer se bydrae tot die ras in sy geheel word ook in ag geneem.

Die Pleasant View Stoetery se pad na sukses het reeds in die 1980s begin, toe Clark se pa, Craig Rattray, die Milburne Stoetery gevestig het. In 1994 het Clark sy eie stoetery op Pleasant View begin. Die sukses wat hy behaal het, is die gevolg van jarelange harde werk, aandag aan detail en groot hoeveelheid ervaring as veeboer. Sy doel was en is steeds om uiters vrugbare diere met goeie konformiteit en hoë gehalte wol te teel. Die stoet word kommersiëel op die veld in die somer en op droëlandweiding in die winter bestuur.

Clark se toewyding het in 2001 resultate gelewer toe hy vir die eerste keer deur die Dohne Merinotelersvereniging as die “KZN Teler van die Jaar” aangewys is. In 2011 is diere uit Clark se Stoetery by die Nasionale Dohne Merinoveiling in Bloemfontein vir die hoogste en tweede hoogste bedrae verkoop. In 2015 het die Stoetery nuwe hoogtes bereik toe Clark by dieselfde veiling vier ramme verkoop het teen ’n gemiddelde bedrag van R78 000,00 per ram. In die groep was ’n ram wat vir R130 000,00 verkoop is.

Die Pleasant View Stoetery bied jaarliks in Augustus ’n produksieveiling by Swartberg aan waartydens meer as 70 A en AA ramme opgeveil word. Voornemende kopers kom van oraloor om hierdie kwaliteit kommersiële ramme aan te koop. Al die ramme word vir die veiling voorberei op ’n rantsoen van RumiGrow FLC 200 en mielies.

Clark se kommentaar oor die produk was: “Ek is baie gelukkig met RumiGrow FLC 200. Dit werk.”